Seuntjie op kleinhoewe doodgery

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Seuntjie van 18 maande oud is Maandagmiddag op ’n kleinhoewe in Kameeldrift buite Pretoria dood toe hy onder die wiele van ’n bakkie beland het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê in ’n kort verklaring ’n saak van strafbare manslag word ondersoek nadat die bestuurder van ’n Ford Ranger-bakkie omstreeks 17:30 oor die kind gery het.

Rufus Engelbrecht, woordvoerder van LifeSupport 24/7, het aan Maroela Media gesê die bestuurder van die bakkie is familie van die kind.

“Die oom het by die huis gekom, nie die kind gesien nie en per ongeluk oor hom gery. Die kind se ma en pa was in die huis en toe hulle uitkom om te groet, het hulle die kind in die oprit sien lê.”

Volgens Engelbrecht was die seuntjie reeds dood met paramedici se aankoms op die toneel.

Volgens Masondo het die oom vermoedelik blyplek op die kleinhoewe gehuur.

Dié tragiese voorval volg kort nadat twee peuters vroeër vandeesmaand in soortgelyke voorvalle gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Juan (38) en Jani Greeff (28) se dogtertjie, Juané, is vroeër vandeesmaand op hul plaas in die Vredefortkoepel in die Vrystaat dood nadat die plaasvoorman per ongeluk oor haar gery het.

Fred en Marché Holtzhausen het op dieselfde dag hul seuntjie, Malan, aan die dood afgestaan nadat Marché hom per ongeluk doodgery het by hul huis in Graaff-Reinet.

Die tweejarige seuntjie is ernstig beseer toe sy ma agteruit gery het sonder dat sy geweet het die kind is agter haar motor. Malan is na ’n hospitaal gehaas, maar is met sy aankoms daar dood verklaar.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Trane ·

Ek huil nie maklik nie, maar die nuus is regtig onstellend. Bitter hartseer.

Catherine ·

Ek weet nie wat hartseerder kan wees nie.
Nie nou tyd vir berispe nie.
Karre is gevaarlike goed.
Selfs katte en honde kom maklik onder die wiele.
Ek bid die Here se vertroosting oor al die hartseer papa’s en mammas

Liza ·

Voel verskriklik jammer vir hierdie ouers, hoe kom mens oor so iets.

Mel ·

Genade di jaar het ni goed begin ni, dis bitter hartseer vir di ouers! Baie sterkte

Alice ·

Waar… Hoe voel mens positief oor 2020 met alles wat aangaan. Is net doom en gloom..

Jurie ·

Dis goed jy noem nie jou naam nie want dan sal almal na jou toe wil gaan want jy is volmaak jy is beter as ons HERE.Jy het seker nog nooit iets fout in jou lewe gemaak nie.Nou moet hulle die persoon tronk toe stuur.Plaas laat jy op nou knie gaan en bid vir die gesinne wat hartseer nou het.Hoop jy antwoord my terug

Oud Rhodie ·

SUV`s en bakkies moet standaard met tru – gonsers toegerus word (reverse buzzers) anders behoort dit agterna aangebring word. Truspieëls is nie voldoende nie.

Jsg ·

Stem volkome saam. Het dit op my voertuig, klein motortjie, ingebou. Kan sulke gevalle voorkom, maar nie heeltemal verseker.

Katrina ·

Ai Anoniem….. mens se 1ste reaksie is woede, iemand om te blameer, maar regtig…… ‘n kleinding speel op die grasperk, onsigbaar agv struike van die motoroprit af…. ‘n motor kom in/uitgery, kleinding bars opgewonde/nuuskierig deur die struike om te sien wie ry daar, en beland reg voor/agter die motor…. (dit is net ‘n scenario van hoe so iets baie maklik KAN gebeur) dit het oor dekades al hoeveel kere gebeur, en elke keer is ‘n gesin en die “skuldige” persoon se lewens onherroeplik verander. Niemand ry sommer net oor ‘n kind uit nalatige haastigheid of omdat hulle gedink het die kind sal betyds geepad nie. Veral met ‘n bakkie wat hoog is, sien jy nie ‘n klein kindjie wat onverwags uit die niet voor/langs/agter jou beland nie. En dit maak nie saak of jy 10kpu gery het nie, as daardie wiele oor so brose lyfie gaan, is dit meestal noodlottig. My hart breek vir alle ouers en familie-lede wie al ‘n kindjie op so tragiese manier verloor het, baie sterkte om deur hierdie tragedie te werk.

Sooo hartseer ·

Dit is net soooo hartseer, mense met klein kindertjies, dit is nie altyd moontlik om hul dop te hou nie en hul glip so maklik uit, vat eers maar die rieme styf, 3 in so kort tydjie maak mens paniekerig, ek sien dit egter weer dat ons almal maar net eers weer bietjie meer oplettend moet wees.

Ook 'n ma ·

Ek was altyd uitgekryt as ‘n senuwee wrak en “paranoid” want as my man sou ry is die eerste ding wat ek vra waar is die kinders, en dan soek ek eers. My man het naderhand kom sê hy vat hulle saam as hy ry, of bring hulle vir my en sê hy gaan nou ry. Ook as daar motors by die huis aangekom het, het ek dadelik geskree waar is hulle. Genadiglik het ek hulle groot gekry nou 25 en 22! Net genade en baie bid vir jou kids! En om “paranoid” te wees as mamma is heeltemal normaal. Ek is nou so oor my hondjies!

Aineeman ·

Om so iets oor te kom is een van my grootste vrese. Ongeag wie die kind is. Ek is so jammer.

Sooo hartseer ·

Wow Katrina jy som dit perfek op!!!!! Ek stem 100% saam, niemand ry sommer net oor ‘n kleintjie nie, ons moet liewer vir daardie persoon bid, selfverwyt is wreed genoeg.

Sons ·

Ai ek weet nie wat om te se nie, dit kan met enigeiemand gebeur. My hart gaan uit aan die familie en die oom. My gebed is dat Jesus julle sal vertroos en toevou in Sy arms. En Anoniem, as jy dink jy dat jy die reg het om te oordeel, dink weer mooi.

Mariaan ·

Ai hoekom gebeur sulke goed…hartverskeurend…arme ouers..ons kan maar net hoop en bid so tragedie word jou gespaar

ZEN ·

As ek en my man ry, of hy of ek staan buite die voertuig en maak seker dat ons hond of kleindkind nie in die omtrek is nie.

Ander Anoniem ·

Ai Anoniem, ek reken maar jy reageer so kwaai as gevolg van ontsteltenis. My (gunsteling) oom het toenterjare per ongeluk oor sy seuntjie gery. Sy enigste seuntjie – hy was op die kruipstadium. My oom was ‘n dierbare mens, en bitterlik lief vir sy kind. Ek dink nie ons sal ooit regtig begryp hoe swaar hy aan die smart en selfverwyt gedra het nie.

Ek dink die bestuurder van die bakkie gaan deur hel op die oomblik.

Mag so iets nooit met jou of joune gebeur nie.

Gesiggie ·

Oh nee my hart sal dit nie hou? hoekom moet so iets gebeur… so n kosbare kind hoe sal enige ouer kon dink dat so iets met hul kind sal gebeur en kan net dink wat hierdie ouers moes deurmaak, en die Oom wat per ongeluk oor hom gery het. My innige meegevoel aan die gesin en aan Juan en Jani en Fred en Mache my hart gaan uit na jul toe , jul het almal baie seer om te verwerk. Mag God aan jul almal krag gee en jul vertroos.

Willem Grobler ·

Dit is bitterlik hartseer. Mag julle almal deur die Goeie Vader vertroos word. Laat my dink aan “ They shall not grow old as we that are left grow old, age shall not weary them nor the years condemn, at the going down of the sun and in the morning, we will remember them”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.