Seuntjie sterf ná aansteekjel ontplof

Arno van Greunen. Foto: Facebook

Arno van Greunen. Foto: Facebook

Arno van Greunen, die sewejarige seun van Meyerton in Gauteng wat voorverlede Saterdag erg gebrand het toe ʼn bottel aansteekjel (“cooking gel”) in sy pa se hande ontplof het, is Maandag oorlede.

Arno se ma, Bernadine van Greunen, het Maandag die hartseer nuus aan Maroela Media meegedeel. Arno is in die pediatriese brandeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorlede. Hy het 45% persent derdegraadse brandwonde aan sy maag, bors, arms en gesig opgedoen. Sy longe het ook gebrand.

Maroela Media het Donderdag berig hoe Arno, ʼn graad 2-leerling aan Laerskool Voorwaarts, die Saterdagmiddag saam met sy gesin fondue gehou het toe ‘n bottel met nagenoeg 1 liter-aansteekjel in sy pa, Schalk, se hande ontplof en Arno gebrand het. Lees meer hier.

Arno van Greunen nadat hy die hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

Arno van Greunen nadat hy in die hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

Riaan van der Merwe, ʼn prokureur van N Van der Merwe Prokureurs, het Maandag aan Maroela Media gesê genoeg mense is al deur die aansteekjel gebrand en hulle is besig met daadwerklike stappe sodat die produk verban kan word.

“My firma tree op namens verskeie slagoffers wat met aansteekjel gebrand het, waar onder  Isabella (Pippie) Kruger en Liana (Lulu) Rossouw,” het Van der Merwe gesê.

“Ons regspan bestaan tans uit twee top senior advokate, ʼn junior advokaat en twee prokureurs.  Ons word verder ondersteun deur hoog aangeskrewe branddeskundiges en ʼn rekonstruktiewe spesialis.”

Van der Merwe het gesê die middel bevat etanol, wat hoogs plofbaar is. “Dit is uiters gevaarlik omdat die jel nie altyd sigbaar brand nie en die blou vlam baie moeilik is om raak te sien. Ons oogmerk is om die regering te dwing om die nodige stappe te neem ten einde hierdie hoogs gevaarlike jel van die winkelrakke te laat verwyder, aangesien ons van mening is dat die jel nie aan die nodige veiligheidsregulasies voldoen nie en verder ook nie die nodige en/of voldoende waarskuwings en gebruiksaanwysings op die verpakking vertoon nie,” het hy bygevoeg.

Pippie het derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen toe aansteekjel tydens ʼn braai op Oujaarsaand 2011 in haar pa Erwin, se hande ontplof het. Liana (Lulu) Rossouw is op 23 Junie 2012 soortgelyk beseer, ook toe haar pa dié jel gebruik het om die vuur aan te steek.

Van der Merwe het ʼn beroep op die publiek gedoen om sy onderneming te skakel met enige gevalle waar mense gebrand het. “Hoe meer gevalle ons as bewyse het, hoe beter is ons kans om so spoedig moontlik in te gryp en te verhoed dat so iets weer gebeur.” Bel Van der Merwe by 083 310 3972.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Elizabeth ·

Liewe ouers van Arno, weet dat julle vandag en die volgende weke in baie mense se gedagtes en gebede is. Moenie julself of mekaar verwyt nie, staan bymekaar en ondersteun mekaar. Ek hoop die gemeenskap om julle sal ook help met ondersteuning. Sterkte vorentoe! Ek is bly om te hoor dat daar uiteindelik ‘n regspan is wat daadwerklik teen die aansteekjel se verkoop/verspreiding gaan optree!

Alex ·

Die probleem is nie die gel nie. Dit is die bobbejaan wat met die goed in sy hand staan en op oop vlamme spuit, en dit dan nog ook terwyl n kind naby is. Hulle moet die pa van die kind vervolg vir nalatigheid, en alles wat hulle kan uit die wetboeke krap. Ek voel baie jammer vir die ouers oor hul verlies maar n mens moet nugter gaan sit en dink oor die oorsaak van die ongeluk.

Mare ·

Alex, dink jy nie die pa sal enigiets in sy mag doen om die “ongeluk” nie te laat gebeur het nie? Let wel : Ongeluk, iets wat ook kan gebeur as gevolg van ‘n menslike fout. Dink jy rerig dit is nodig om die arme man n “bobbejaan” te noem? Dit is altyd maklik om van die kant af te staan en se : “Sien jy, jy moes dit gedoen het” en dit terwyl dit ‘n ongeluk was.

Die punt van die saak is, waarskuwings moet aangedui word op produkte, Die bottel self kan beveilig word. Deur net te se “Die ou moes van beter geweet het” gaan nie die probleem oplos nie. Met daai mentaliteit eindig ons waar ons nou is, nog ‘n kind verbrand.

Jo ·

Ai, ek is so jammer om te hoor van Arno se dood. Sterkte aan die familie en dierbares. Mag Vader God julle vertroos en dra deur hierdie moeilike tyd.

stephan ·

My hart gaan uit aan al die gesin. Dit is goed om te hoor iemand doen darem iets daaroor. Jammer dat so iets drasties moes gebeur. Sterkte.

Theresa ·

Ai dis nou hartseer nuus. Baie, baie sterkte aan die ouers en familie. Weet daar is so baie mense wat aan julle dink en vir julle bid in hierdie tyd.
10 uit 10 aan die Prokureurs firma wat die saak verder vat.

Alex ·

Theresa, ek hoop daai firma kla die pa ook aan vir nalatigheid.

Santie ·

Bly om te hoor dat daar uiteindelik stappe geneem gaan word om dit van die rakke te verwyder. Sterkte aan die ouers.

Johan Smal ·

Om die produk te verban klink vir my nogal redelik dom. Mense gaan dan petrol, thinners of enige ander vlambare vloeistof gebruik. Die gel is 100% veilig as dit gebruik word soos dit bedoel is, en restaurante gebruik dit in bain maries. Wat moet restaurante dan gebruik as dit verban is?

Sollie ·

Johan Smal, ek dink die hele ding is die jel voldoen nie aan enige veiligheidsmaatreëls nie. Dis nie ‘n dom besluit nie en ek glo daar is ander, veiliger produkte beskikbaar. Dis onmoontlik dat hierdie die enigste van sy soort produk kan wees. Ek dink jy sou anders voel as dit jou kind was.

Willie ·

Sollie, thinners of parafien in ‘n 750ml bottel kan by supermarkte gekoop word. dit voldoen ook nie aan enige veiligheidsmaatreëls nie. Die feit is dat dit verkeerde gebruik van die produk is om dit uit die bottel op ‘n brandende vlam te gooi. Selfs as jy die verkoop daarvan in bottels verban, gaan dit nog nie roekelose misbruik uitskakel nie. Dit is nie die produk se skuld as die gebruiker alle logiese veiligheidsmaatreëls ignoreer nie.

Alex ·

Sollie, ek besef mens sal anders voel as dit jou kind is maar die feit bly staan dat die pa onverantwoordelik opgetree het en die oorsaak van die ongeluk is. Net n aap spuit die gel op oop vlamme, en dit nog as n kind of kinders by staan. Hulle moet die pa vervolg vir gruwelike nalatigheid. As jy nie weet hoe iets werk nie, LEES DIE INSTRUKSIES.

Neptunus ·

Stem saam jou Alex. Hoe tragies en permanent hierdie verlies ook al is, niemand het nog seergekry omrede dit op ‘n winkelrak ontplof nie. Menslike nalatigheid is die oorsaak. Die pa behoort aangekla te word, die arme kind se pynlike dood is nie aan ‘n “Act of God” te wyte nie. Het hierdie mense nog nooit gehoor van Pippie Kruger se geval nie, hoeveel keer is nie al daaroor berig oor die jare nie? Ek het al ‘n keer of wat hierdie goed gebruik en ja, die vlam is nogal moeilik sigbaar maar ek het nooit met die bottel naby my die goed aangesteek nie, selfs toe ek nog bygevoeg het. Die gevolg van sy daad was beide voorsienbaar en voorkombaar, mens kan netsowel by ‘n vlam staan met ‘n oop bottel petrol in jou hand.

Gerrie ·

Die pa vervolg… is julle nou heeltemal simpel. Niemand maar absoluut niemand wil hê hulle kind moet seer kry nie. Dit was ń tragiese ongeluk en nou moet die pa vervolg word… DINK JY NIE HY GAAN AL DEUR GENOEG HEL OMDAT HY SY KIND VERLOOR HET NIE???

Lillian ·

Ai, ek het so gehoop hy sal ook kon oorleef soos Pippie … Sterkte aan die familie …

Die pa vervolg? Verban liewer daai gemors wat verkoop word in ons land en soveel lewens eis! Die arme mense aan deur soveel smart en nou moet dit ook nog oor hul koppe hang? Sluit liewer kriminele toe wat roof en moor en gooi die sleutel weg in stede om hul borg te gee!

bea ·

Hou julle almal op om klippe te gooi ek is seker almal van julle het al stupid goed aangevang wat noodlottig kon wees!!!!Niemand wil n kind verloor so dit was n fout wat gemaak was en nie aspris..
Sterkte aan die familie…

Neptunus ·

Almal wat so sis, raas en blaas en probeer wal gooi… al gehoor van die konsep “bydraende nalatigheid’. Hoop hierdie saak draai in ‘n geregshof dan kan julle ook bietjie op datum kom daarmee. Die pa was vir seker nalatig, hoe hartseer en groot sy verlies ook al is. Natuurlik het hy nie beoog dat sy seuntjie beseer word nie, maar hy moes dit voorsien en voorkom het.

Karen ·

Alex en Neptunus
Mag God alles wat julle nou op daai arme Pa uitspreuk, in ‘n “blessing” verander, gemaal word met ‘n 100 en dit op die Pa en sy gesin uitstort! Amen

SNEL ·

Ek stem Bea, dis vreeslik hoe hulle op iemand kan trap as hy klaar lê. Hierdie ouers is stukkend en dan skryf mense sulke goed. Ek dink hierdie ouers verwyt hulle genoeg, die ma omdat sy nie die kind weggehou het nie en die pa omdat hy die gel naby die kind gebruik het en NIEMAND van ons was daar. Die kind was agter hom so ver ek weet toe dit gebeur het, miskien het hulle gesê hy moet nie naby gaan nie en hy het after sy pa ingesluip. Punt bly staan, ongelukke gebeur en die ouers het n hand van ondersteuning nodig.

privaat ·

As gevolg van nalatigheid van die ouer se kant want as die kind Agter hom was sou die kind nie so gebrand het nie maar we’ll die pa maar hy het toe die gel in sy hande brand dit gegooi en toe die kind getref en ek dink dit is niks meer as regverdig dat hy vervolg word en dat daar verdere ondersoeke moet gedoen word om by die waarheid uit te kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.