Seuntjie sterf na mangeloperasie: ‘Ek het soveel woede’

Jaundré Bennett

Jaundré Bennett

“Ek het daardie oggend my pa gebel en gesê ek het ʼn slegte gevoel.” Geraldine Bennet (29) sê sy wens sy het die dag na haar “sesde sintuig” geluister, want dan was haar woelwaterseuntjie dalk nog hier.

Die tweejarige Jaundré Bennett is op 4 Mei 2012 dood na ʼn mangeloperasie die vorige dag. Vier spesialiste is na Jaundré se dood van strafbare manslag aangekla. Dr. Pieter Bresler, die chirurg wat die operasie gedoen het, is in Desember 2014 aan kanker oorlede.

Die saak teen die ander twee spesialiste, drs. Matthew Tabiri, ʼn kinderarts en Abrar-Ul-Hasnain Syed Fatmi, ʼn neuroloog, is laat vaar, nadat hulle staatsgetuies geword het in die saak teen dr. Deon Kotzé, ʼn narkotiseur van Vereeniging.

Kotzé het in Januarie vanjaar erken hy was nalatig ten tyde van Jaundré se mangeloperasie en dat hy te veel narkose toegedien het. “Hy het voor die operasie op twee plekke op Jaundré se bors gedruk en gesê hy is reg, hy kan maar gaan,” het Geraldine gesê. “Ek het die dag wat Jaundré dood is, vir hom gevra wat het gebeur en hy het gesê ek sal nie vir jou jammer sê nie want ek het niks verkeerd gedoen nie.”

Kotzé het verlede week weer in die hof verskyn vir voorvonnisverrigtinge. Die saak is tot 25 Januarie uitgestel. “Hierdie saak gaan nou al langer as vier jaar aan en elke keer moet ek hom [Kotzé] sien. Hy het nooit eers self vir ons gesê hy is jammer oor wat gebeur het nie.”

Jaundré, wat twee jaar en vier maande oud was en sy ouers het op 3 Mei 2012 omstreeks 12:00 by die Mediclinic Vereeniging opgedaag en hy is sowat ʼn uur later by die teater ingestoot. Geraldine en haar man Heinrich (30) het egter geweet iets is fout toe hulle vir langer as 45 minute buite die teater gewag het. “Toe kom die dokter uit en sê ons kind het opgehou met asemhaal. Ek was histeries. Ek het die dokter teen die bors geslaan en in die teater ingestorm. Ek het net begin skree.”

ʼn Suster het toe sê daar is ʼn hartklop. “Ek wou my kind sien. Hulle het vir hom suurstof gegee en van daar af is hy na die intensiewe sorgeenheid toe. Die pediater het daar na hom kom kyk en reguit gesê daar is nie hoop nie. Hy het toe nie eens geweet wat gebeur het nie. Hulle het net vir hom gesê dit was ʼn mangeloperasie.”

Jaundré se toestand het deur die nag verander. “Sy pupille het kleiner geraak en dit het gelyk asof hy wil begin asemhaal, daar was nog reaksie. Die pediater het vir hom ʼn kateter ingesit en hom ingespuit om hom rustig te maak sodat hulle ʼn breinskandering kan doen.”

Sekondes daarna het Geraldine gesien hoe haar seuntjie se hartklop afneem. “Ek het vir hulle geskree dat sy hartklop val. Hulle het my buite toe gevat. En toe sê hulle dit is verby, hulle kan niks verder doen nie,” het Geraldine huilend vertel. “Ek het gesê ek wil nie vir Jaundré  vat vir die operasie nie, maar almal het gesê ek moet rustig wees, want dis net sy mangels wat uitgehaal word.”

Heinrich en Geraldine saam met Heinrich jr. en Jessica

Heinrich en Geraldine saam met Heinrich jr. en Jessica

Heinrich jr., Jaundré se ouboet, was vyf jaar oud toe sy boetie dood is. “Ek moes vir hom verduidelik sy boetie is na Liewe Jesus toe. Ek het self vir Jaundré aangetrek na die nadoodse ondersoek en ons het speelgoed saam met hom in die kis gesit en vir sy boetie gesê Liewe Jesus gaan dit kom haal.”

Volgens Geraldine het Heinrich jr. sielkundige behandeling ontvang na sy boetie se dood. “Hy het vreeslik aggressief geraak en partykeer gedink dis my skuld dat sy boetie dood is. Vier jaar later en hy kry nog steeds afdae en dan hy skryf hy briefies vir Jaundré.”

Volgens Geraldine het Jaundré se dood ook spanning in hul huwelik veroorsaak en het sy by tye gedink om net op te gee.

Die egpaar het intussen ʼn dogtertjie, Jessica, wat nou amper twee jaar oud is, gehad. Geraldine en Heinrich sal vir Jessica vertel van haar boetie wanneer sy ouer is. “Ons maak gereeld by Jaundré se graf skoon en ons huis is vol foto’s van hom. Heinie is teruggetrokke en ʼn stil kind. Hy is tevrede met enigiets. Jaundré was so lewenslustige kindjie. ʼn Regte woelwaterseuntjie.”

Geraldine hoop hulle kan afsluiting kry wanneer die hofsaak tot ʼn einde kom. Ek het gemengde emosies. Ek is so woedend vir hom [Kotzé]. Dit raak nou regtig lank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

47 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elzahn

Ek kry skoon trane in my oe vreeslike hartseer verhaal.

Inge

Dit is hoekom ek WEIER om my twee kinders te vat! Ek sal dit nie doen nie! Daar is ‘n rede hoekom God jou so geskep het, mangels en als. Dit is vreeslik wat gebeur het. Ek weet dit gebeur nie sommer nie, maar ek sal nie ‘n kaans vat nie..

Averill

My innige sympatie met jou Geraldine en jou gesin. Ek en my man is presies dieselfde deur met ons oudste seun J-P (Jean-Pierre) 26 jaar terug. Het ingegaan vir mangel operasie, die volgende dag was hy dood. Sy hart het ook gaan staan, en toe moes die dokters spook om hom by te kry. Net die adenoids is toe verwyder. Met die nadoodse ondersoek is bevestig dat hy te veel narkose toegedien is deur n gewone GP wat hom aan ons voorgestel het as n Narkotiseerder. Tweedens is bevestig dat hy apoksie op die brein gekry het wat beteken dat… Lees meer »

Koos1

Die seker die arrogantste “dokter” waarvan ek nog gehoor het.
Baie jammer wat met julle kind gebeur het, maar ry daai dokter dat hy nooit weer in sy lewe met mense lewens kan dobbel nie!
Uit ondervinding weet ek dokters staan saam om vir mekaar te “cover” in sommige gevalle. Ek is bly hierdie saak het in die hof gekom.

Rina Kotze

Ai, hoe moet ek nou voel, dit maak my skoon benoud, want my kind se mangels moet binnekort uitgehaal word.