Seuntjie sterf, vier beseer in Bloem-ongeluk

Argieffoto

ʼn Sewejarige seun is dood en vier ander persone, sy ouma, ma en twee sussies, is beseer tydens ʼn ongeluk op die N1, ongeveer 20 km buite Bloemfontein in die Vrystaat.

“Paramedici het omstreeks 10:00 by die toneel opgedaag waar ʼn ligte motor onderstebo langs die pad gelê het,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. “ʼn Vrou, in haar 70’s, was nog in die motor vasgekeer en ʼn vrou en drie kinders het ʼn paar meter van die voertuig af gelê.”

Meiring het gesê die seun het noodlottige beserings opgedoen. “Paramedici kon ongelukkig niks vir hom doen nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

ʼn 37-jarige vrou en haar twee dogters, tussen drie en 11 jaar oud, is ook beseer. Een van die dogters het kritieke beserings opgedoen.

“Die 70-jarige vrou moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word voor sy na ʼn hospitaal geneem kon word vir verdere behandeling.”

Plaaslike owerhede was op die toneel en stel verder ondersoek in.

Maroela Media verneem die 70-jarige vrou is Nellie van Zyl, vrou van André van Zyl wat predikant was van die Lighuis Jesus Bediening op Welkom voor sy aftrede. Tina Clayton en haar drie kinders was saam in die motor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leser ·

Ai, my hart breek vir julle. Ek hoop hier kom spoedige beterskap vir tannie Nellie en die kleindogter wat so erg beseer is. Baie baie sterkte Ds Andre en almal in die gesin. Wees seker dat die HELE Lighuis julle almal in ons gebede opdra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.