Seuntjie verdrink in drom reënwater

Connor Weber. Foto: Verskaf

Die lewe van ʼn 20 maande oue seuntjie is Dinsdag met helder kleure en seepbelle by sy gunsteling-speelplek in die droogtegeteisterde Kaapstad gedenk nadat hy verlede week in ʼn drom met opgaarwater verdrink het.

Daniel Weber (34), die seuntjie, Connor, se pa, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy en sy vrou, Debbie (37), was verlede Maandag by die werk toe die tragedie hom afgespeel het.

Die Weber-egpaar woon al lank in Kaapstad, maar het eers sowat vier maande gelede na ʼn nuwe huis in Rondebosch verhuis. Daar het hulle verskeie houers opgerig om reënwater mee op te vang. Al die houers, buiten ʼn ou asdrom wat deur die vorige inwoners agtergelaat is, is bedek.

“Ons het die ou asdrom ook gebruik om water mee op te vang want dit maak ʼn goeie houer. Die drom was met die ander houers toegepak. Soos die noodlot dit wou hê het ons die Sondag van die water uit dié drom gehaal en in ʼn klein swembadjie gegooi sodat die kinders daarin kon speel. Die drom het toe die Maandag oopgestaan,” het Weber gesê.

Connor, wat op 17 Februarie twee jaar oud sou word, en sy driejarige sussie was in die sorg van hul kinderoppasser. Connor het teen middagete soos gewoonlik buite die huis gespeel terwyl die kinderoppasser vir hom en sy sussie kos gemaak het.

“Sy sussie het voor die televisie gesit en Connor het in die voorerf gespeel. Hy het in ʼn stadium na die agterplaasf geglip waar die houers is. Ek vermoed hy wou met die water speel toe hy in die drom ingeval het.”

Weber het gesê die drom is sowat ʼn meter hoog, maar die watervlak was baie laag. Die kinderoppasser het op hom afgekom en teen 12:58 die oproep gemaak wat die egpaar se lewe vir ewig verander het.

“Ons was binne ses minute by die huis en het noodhulp toegepas totdat paramedici opgedaag en oorgeneem het. Connor is in die Rooikruis-kinderhospitaal behandel waar hy Saterdag gesterf het. Die personeel by die hospitaal het regtig alles wat hulle moontlik kon doen gedoen om sy lewe te red,” het Weber gesê.

Connor se gedenkdiens is Dinsdag by die trekkerpark in Keurboom gehou. Vriende en familie is versoek om kleurvol aan te trek, seepbelle te blaas, en in plaas daarvan om blomme te gee, eerder ʼn geldskenking aan die hospitaal te maak.

“Ons wou nie gehad het dat die geleentheid te hartseer moes wees nie, daarvan het ons oorgenoeg gehad. Connor het nooit hartseer geken nie, net geluk. Hy was ʼn regte nar, vol lewe en het die heeltyd gehardloop wanneer hy kon.”

Weber het gesê as daar iets goed uit die tragedie kan kom, is dit dat die hospitaal finansieel ondersteun word en dat daar genoeg bewusmaking geskep word om verdrinkings te verhoed.

“Dit was ʼn verskriklike tragiese ongeluk en so iets kan met enigiemand gebeur. ʼn Kind kan in die kleinste bietjie water verdrink, selfs in die badwater wat inwoners los om hul tuine mee nat te lei. Mense moet eerder oorversigtig wees. Almal wat water op een of ander manier probeer opvang moet seker maak kinders kan nie daarby uitkom nie. Ons het dit op die ergste moontlike manier geleer.”

Weber het gesê hulle wil ʼn geregistreerde nie-winsgewende trust op die been bring om die Rooikruis-hospitaal by te staan.

“Die hospitaal doen fantastiese werk. Hulle werk daagliks met 22 kinders wat veg om hul lewens en hanteer elke kind asof dit hul enigste pasiënt is, ongeag van hul ouers se finansiële posisie.” Hy het gesê die hospitaal is ʼn openbare instelling en is afhanklik van skenkings.

“Woorde kan nie die verlies van my seun se lewe beskryf nie, maar ons hoop die bewusmaking en befondsing help in die toekoms om ander kinders se lewens te red,” het hy gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

LMF ·

Ja n ongeluk gebeur in n oogwink ek as ouma wil vir julle al die sterkte in die wereld toewens en dan verstaan ek dat die droogte jul dwing om als moontlik te doen om julself deur dit te kry mag God jul styf vashou en mag Jul soma gou reen kry. My hart le aan skerwe vir julle

Rooiman ·

My seuntjie word in Februarie 2. My hart ruk vir julle. Ek weet nie hoe n ouer deur so iets staande bly nie. Baie sterkte, Jesus Christus sal julle styf vashou en vertroos.

Zettie ·

Ai tog………..geen woorde nie. Baie sterkte aan die familie en geliefdes. Rus in vrede kleintjie…….

Driekie Grobler ·

Dis die tragieste van tragedies om n kind op die manier op daardie ouderdom te verloor. My hart gaan uit na die ouers en familie. Net God kan in sulke omstandighede troos.

Annie ·

My seuntjie word ook februarie 2. Mamma en pappa ek kan nie eers dink hoe julle ouer harte moet voel nie. Ek bid dat die Here vir julle vertroosting sal bied en dat julle harte sal genees. En vir die dagmoeder wil ek net se dit was n verskriklike ongeluk en ek hoop nie jy gaan jouself verwyt oor dit nie, dit was nie jou skuld nie, dit kon met enige een gebeur het. Baie sterkte vir julle as ouers. Jesus sal julle deur die moeilike tyd dra.

Rose ·

Ek is so verskriklik jammer vir julle hartseer en pyn …mag God julle telkemale troos xxx

SARIE VAN HEERDEN ·

‘n Seuntjie het in ons swembad verdrink met sy twee tienersussies by hom tewyl iemand vir hom lekkers in die huis gaan haal het. Ongelukkig gebeur so vinnig!

Gesiggie ·

Hoe hanteer n ouer so iets…. my hart ruk uitmekaar vir jul ” My Innige meegevoel, mag God jul dra en vashou deur die hartseer tyd… RIP klein Connor…

Hartseer ·

Dis oneindig hartseer..my hart gaan uit na julle..woorde kan nie beskryf hoe seer dit is nie..Baie jammer?

Muffin ·

Hartseer en verdriet oor die feesgety. My innige simpatie vir die ouers en 3 jarige sussie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.