Seuntjie verloor vinger ná spoegkobra hom pik

Retha Du Plessis saam met haar seun, Dawid, voor sy operasie. Foto: Verskaf

Dawid du Plessis, die vyfjarige seun van Limpopo wat drie weke gelede deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gepik is, se ringvinger moes noodgedwonge geamputeer word.

Dawid is op 23 Januarie omstreeks 23:30 in sy bed op sy hand gepik terwyl hy geslaap het. Hy woon saam met sy ouers, Philip (39) en Retha (33) du Plessis, op ʼn kleinhoewe in die Bulgerivier-omgewing buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo.

Retha en Philip is betrokke by The Fold-kinderhuis wat na 33 kinders omsien. Philip en Retha het met Dawid en sy sussie, Megan (11), in hul bakkie gespring en hulle na ʼn hospitaal in Lephalale gehaas waar Dawid in die waakeenheid opgeneem en teengif toegedien is. Sy ouers het hom op 25 Januarie in die Netcare Montana-hospitaal laat opneem nadat sy toestand verswak het.

Dawid is sedertdien uit die waakeenheid na ʼn gewone saal oorgeplaas nadat hy talle operasies gehad het om sy wond skoon te maak en dooie weefsel te verwyder. Die ringvinger aan sy linkerhand het egter te veel skade opgedoen toe die slang hom op sy kneukel gebyt het en is Sondag geamputeer.

“Dit was maar die beste besluit vir Dawid se herstelproses, maar dit maak dit nie makliker nie,” het Retha Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê. Sy waak by haar seun se bed sedert hy drie weke gelede in die hospitaal opgeneem is. “Die hospitaal en personeel is wonderlik en ek slaap sommer hier langs hom in ʼn bed; solank ek net by my kind kan wees, gee ek nie om waar ek slaap nie.”

Sy het gesê Dawid is in ʼn goeie luim en besef wat gebeur het. “Sy hand is nou nog met verbande toegedraai, so hy het nog nie sy hand gesien nie, maar skerts en sê al wat hy nou nie meer sal kan doen nie is om tot 10 op sy vingers te tel. Hy sê ook nou hoef hy nie eendag ʼn trouring te dra nie, want sy pa dra ook nie een nie.”

Verder sê sy Dawid veg nog dapper voort en daar is geen teken dat hy wil moed opgee nie. “Hy is nog ʼn bietjie swak, maar ons gaan stap elke dag drie keer soos wat ons moet. En hy eet weer goed en sonder ophou.”

Die wond aan Dawid se linkerhand voor sy eerste operasie in Montana. Foto: Verskaf

Dawid moet Woensdag weer teater toe gaan sodat sy wond behandel kan word. “As alles dan goed gaan, kan hy miskien ontslaan word, maar ons sal nog nie huis toe kan gaan nie en moet in Pretoria bly. Hy moet nog gereeld inkom vir wondbehandeling en die steke moet oor 10 dae uitgehaal word. Daarna kan ons miskien teruggaan huis toe. Tot dan vat ons dit maar dag vir dag.”

Sedert Dawid in Pretoria mediese behandeling ontvang het, het hy ʼn besoek van ʼn meisie ontvang wat deur dieselfde beproewing as hy gegaan het en ook haar vinger weens die pik van ʼn Mosambiekse spoegkobra verloor het.

Mikayla Robbertse moes in Junie 2016 ʼn wigamputasie in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria ondergaan. Mikayla se middelvinger aan haar linkerhand is tydens ʼn ses uur lange operasie geamputeer nadat ʼn spoegkobra haar op 19 Desember 2011 in haar bed gepik het op die Robbertses se plaas buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo. Sy was toe ook vyf jaar oud.

Voor die amputasie het sy 37 operasies ondergaan in ʼn poging om haar hand en vinger te red, aangesien die gif haar spierweefsel gevreet het. Haar vinger wou egter nie gesond word nie. ʼn Liesflap is ingeplant om weefsel en bloedtoevoer in haar hand te herstel, maar nogtans het die vinger bly verkleur en die lid het doodgegaan. Dit het haar baie pyn besorg. Dit het ook vorentoe gekrul in haar palm en veroorsaak dat sy min funksie in haar handjie gehad het. Die amputasie moes gedoen word om die pyn te verlig sodat sy die gebruik van haar hand kon terugkry en haar ander vier vingers beter kan gebruik.

Mikayla het vir Dawid ʼn Bybel en ʼn teddiebeer hospitaal toe gevat. Mikayla is nou dolgelukkig en pak die lewe met albei hande aan.

“Haar besoek en haar verhaal het vir ons baie hoop gegee vir die lang pad wat voorlê,” het Retha bygevoeg.

Mikayla Robbertse voor haar operasie. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maggie ·

Sterkte vi jou Dawid asook vir jou ouers.Weet jy sal spoedig herstel en aanpas.

Siestog ·

Die arme kinders. Miskien moet hul ouers reël dat die tweetjies ontmoet om so oor hul trauma te kan gesels en so ook kan sien dat daar nog iemand is wat deur dieselfde gegaan het. Baie sterkte aan albei families. Mag hulle gou herstel en aangaan met hul lewens.

Gesiggie ·

Hou moed seun.. jy is n vegter… en al het jy een vinger minder… het Jesus aan jou nog n volle lewe gegee , word gou beter sodat jy lekker saam jou maats kan speel, en gou weer tuis kan wees by Mamma en Pappa… sterkte aan jul as n gesin…. voor jy weet is al die Eina weg….

Estie ·

Mikayla en Dawid, julle gee my hoendervleis – julle is albei wenkinders!

izette ·

Sterkte, voorentoe sal dit nou net beter gaan met julle.
Bid vir n spoedige herstel, en terug by die huis wees.

Blommie ·

Sjoe dis erg. Sterkte aan jou groot man. Jy mag nou miskien net 9 vingers hê maar ek wen jou nog ek het net 8 tone. 2 weens amputasie verloor. Jy sal jou 9 x tafel nou ook baie gou kan leer. Sterkte aan julle as ouers. Ek is seker die HERE sal julle lei en dat julle seun die groot trauma kan verwerk.

MJ ·

Slang-gif wat klein vingertjies so seer laat kry. Dankbaar dis nie sy duim wat in die slag gebly het nie.. Sterkte vir jou herstelpad groot man.

Cassie ·

Dit is sekerlik baie pynlik.Sielkundig het Dawid die stryd gewen want hy berus by dit wat gebeur het en skerts oor ‘n trouring dra.Ek kom nie in ‘n krokodil se water nie en hy kom nie in my sitkamer nie.As slang se kind dus in my huis sou kom wel………Sterkte aan die klein mannetjie en sy ouers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.