Sewe dood ná twee skietvoorvalle in Philippi-Oos

Argieffoto.

Twee skietvoorvalle Dinsdag in Philippi-Oos op die Kaapse Vlakte het altesaam ses lewens geëis. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die twee skietvoorvalle dalk met mekaar verband hou.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, sê lede van die misdaadvoorkomingseenheid in Philippi-Oos het Dinsdagmiddag op ʼn skietery tussen twee strydende partye in twee Toyota Avanza-voertuie in Thekwane-weg afgekom. ʼn 19-jarige man is tydens die voorval doodgeskiet.

Potelwa sê toe diegene betrokke by die skietgeveg die polisie gewaar, het hulle op die polisie begin losbrand. Die polisie het teruggeskiet en een verdagte raakgeskiet. Hy is op die toneel dood verklaar.

In die tweede skietvoorval is polisiebeamptes Dinsdagaand na Blok Vier in die nedersetting ontbied, waar vier mans in ʼn huis dood aangetref is. Sewe gewapende mans het glo omstreeks 18:30 die huis binnegestorm en na willekeur op die inwoners van die huis begin losbrand. ʼn Vyfde slagoffer is later in die hospitaal oorlede nadat hy saam met nóg ʼn beseerde na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is.

Volgens Potelwa ondersoek die polisie tans die twee skietvoorvalle, asook die moontlikheid dat die twee voorvalle dalk met mekaar verbind word.

“Ons glo die ondersoek sal ook lig werp op die motief vir die skietgevegte,” sê Potelwa.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het sy misnoeë oor die voorvalle uitgespreek.

“Ek is meegedeel dat die polisie na aanleiding van die skietery ʼn span speurders saamgestel het wat spesialiseer in ernstige geweldsmisdade om die twee skietvoorvalle te ondersoek. Die speurders voer tans onderhoude met verskeie mense om agter die kap van die byl te kom,” sê Fritz.

Fritz en lt.genl. Yolisa Matakata, die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, doen ʼn beroep op die ondersoekspan om die skuldiges so gou moontlik vas te trek.

“Misdrywe soos dié laat lede van die gemeenskap getraumatiseerd. Hulle vrees vir hul lewe wanneer hulle die huis verlaat. Niemand moet in sulke vrees leef nie.”

Fritz het ook sy medelye aan die oorledenes se families en vriende betuig.

In nóg ʼn ander onverwante voorval ondersoek die polisie in Swellendam in die Wes-Kaap die moord op twee sakemanne. Hulle is Dinsdag deur vier verdagtes in die Baraka-winkel in Evertson-straat in Swellendam oorval en verskeie kere gesteek.

Potelwa sê met polisie se aankoms by die winkel is kruideniersware op die winkelvloer aangetref. ʼn Aansienlike groot bedrag geld is uit die winkel gesteel.

Sake van moord en sakeroof word ondersoek. Enigiemand met meer inligting oor dié voorval kan sers. Dlephu by 079 894 1792 of 028 514 1090 nader.

Meld inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldiges van enige van die voorvalle kan lei by 08600 10111 aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Werner ·

Nogal n span speurders seker omdat hulle nie boere is nie maar ek dink hulle kan maar na bendegeweld kyk as motief

JohanR ·

Sover al ‘n slegte misdaad dag op MM, en in Suid Afrika op 1 Julie 2020, en daar is nog 7.5 ure voor middernag : 1. Rower doodgeskiet ná rooftog
2. Jong onderwyseres dood aangetref
3. Man sterf in plaasaanval by Cullinan
4. Bekende sakevrou in Upington vermoor
5. 14-jarige glo by modelagentskap verkrag
6. Sewe dood ná twee skietvoorvalle in Philippi-Oos

Kokerboom ·

Johan, Suid-Afrika is leeuwereld!Dis skrikwekkend. Ek betwyfel ten sterkste die kapasiteit en vermoeë van die polisiebestuur om misdaad in die land hok te slaan.Die ergste is dit dring blykbaar gladnie tot hul deur!!

marius ·

Waarom ‘n span speurders ? Dis mos so alledaags soos koffie voor werk .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.