Sewe dood op N4 na Mosambiek

Sewe mense is dood toe die bussie met ‘n vragmotor op die N4 naby Hectorspruit in Mpumalanga gebots het. (Foto: Dept. van gemeenskapsveiligheid: Mpumalanga)

Sewe mense is dood en nog agt beseer in ʼn botsing tussen ʼn minibustaxi en ʼn vragmotor kort voor middernag Dinsdag.

Die ongeluk het op die N4, naby Hectorspruit, in die rigting van die Mosambiekse grens gebeur, het Moeti Mmusi, woordvoerder van Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, gesê. Die minibussie was oënskynlik van Johannesburg na Mosambiek op pad.

“Die taxibestuurder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en teen die kant van die vragmotor gebots,” het hy gesê.

Die sewe oorledenes het almal op die toneel gesterf. Verskeie ambulansdienste was op die toneel en het die beseerdes na die nabygeleë Shongwe- en Tonga-hospitaal, asook die Nelspruit-Medikliniek geneem. Die vragmotorbestuurder was onder die beseerdes.

“Die oorledenes is vier vroue en drie mans,” het Mmusi gesê.

(Foto: Dept. van gemeenskapsveiligheid: Mpumalanga)

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Gabisile Shabalala, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het haar medelye met die slagoffers se naasbestaandes betuig en by motoriste gepleit om veilig te ry.

“Die vervoer van goedere en mense is die ruggraat van ons ekonomie en voertuigbestuurders moet ekstra bedag wees sodat ons dodelike ongelukke beduidend kan verminder,” het Shabalala gesê.

Sy het gesê nie net veroorsaak die ongelukke ongelooflike lyding nie, dit het ook enorme ekonomiese gevolge.

“Miljarde rande gaan jaarliks verlore weens dié dodelike ongelukke wat grootliks voorkom kan word,” het Shabalala gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Beryl ·

Maroela Media: Julle artikel sê 7 dood, dan verder in die berig is dit al agt oorledenes en dan weer 4 vroue en 3 mans?

Christel Cornelissen ·

Dagsê Beryl
Dankie vir jou boodskap.
Dit was ‘n fout wat ingesluip het en ons het dit sedertdien reggestel. Die korrekte getal is sewe oorledenes.
Groetnis,
Christel
nms. Maroela Media

Anoniem ·

Hulle moet eerder kyk om minibus taxis van die pad aftehaal en weer trein en bus vervoer in werking te stel

Gawie ·

Die vragmotors op dardie pad is maar net so erg – veral ná donker, dan ry hulle asof die pad aan hulle behoort. Wit strepe beteken vir hulle niks. Ekself is amper deur ‘n vragmotor uitgehaal op daardie pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.