Sewe gee verklarings oor TUT-student se dood

Thabelo Mbau is per ambulans na ʼn hospitaal vervoer, maar het aan sy beserings beswyk. (Foto: X)

Die nadoodse ondersoek op Thabelo Mbau, die student van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) wat glo weens polisiewreedheid dood is, is Dinsdag afgehandel, het die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) gesê.

Opod het vroeër aan Maroela Media bevestig dat hy dié saak ondersoek.

Sewe mense het intussen verklarings afgelê en hul weergawes van die gebeure met Opod bespreek, aldus dié direktoraat.

Die besonderhede van dié verklarings en onderhoude, asook die bevindings van die nadoodse ondersoek, is egter nie bekend nie.

Opod het laat Dinsdagaand vir ruimte gevra om sy ondersoek te doen.

“Opod sal die voorval sonder vrees of vooroordeel ondersoek om die feite van die saak vas te stel. Opod-ondersoekers sal met die staatsaanklaer in verbinding tree sodra daar voldoende inligting is wat die aanklaer met ʼn besluit kan help,” het Opod gesê.

“Opod vra vir ruimte om die saak saam met ander wetstoepassingsagentskappe behoorlik te ondersoek.”

Opod vra verder dat enigeen met inligting oor die gebeure na vore sal kom.

Ondersoekers van die direktoraat het glo ook reeds met Mbau se naasbestaandes geskakel en hulle op hoogte van die ondersoek gebring.

Mbau, ʼn tweedejaar- elektriese ingenieurstudent by TUT se eMalahleni-kampus, is Saterdag glo deur polisiebeamptes wreed aangerand. Hy is ná die voorval na ʼn hospitaal vervoer, maar het aan sy beserings beswyk.

Volgens beskikbare inligting het die voorval buite die Khayalethu-koshuis naby die universiteit plaasgevind. Verdere besonderhede oor die voorval is egter skraps en ʼn geregtelike doodsondersoek is aan die gang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rocco ·

As daar enige konflik is, loop weg – ons bly in ‘n geweldadige wêreld (land) waar geen lewe iets beteken nie.

Frank ·

Ja, Rocco, in enige ander land sou jy se: vermy konflik en gaan polisie toe….

christo ·

Kom ons stel die saak in perspektief:
1. Die SAPD het op ‘n klagte van rusverstoring en (ge) misbruik van alkohol in die vroeë oggendure gereageer.
2. Die TUT studenteverblyf is nié geleë op die TUT se kampus nie, maar in ‘n residensiële woonstel gebied.
3. Die windgat studente het geweier om te reageer op die polisie en slaags geraak met die polisielede, wat terloops in die minderheid was.
4. Die studente het weerstand gebied teen arrestasie, met geweld, en die polisie het met minimum geweld gereageer. Neem kennis dat die SAPD het géén minder dodelike wapens soos in die VSA, sgde. ‘ tazers’ nie.
5. Wat daarna gebeur het sal nou deur Opod se verklarings bepaal word, alhoewel ek dink die konkoksie van die studente dieselfde sal wees, en die polisielede liewer hulle polisie unie se regsverteenwoordiger se aanbeveling van swygereg sal gebruik en liewer kamera materiaal sal staatmaak.
6. Oor die algemeen ervaar Witbank die TUT studente as ongeskik en voorbarig.
7. Indien jy ‘n student is gee dit nie jou die vryheid dat jy verhewe is bo die reg nie.
8. Uit ervaring bied sekere lede van die bevolking gereeld weerstand teen arrestasie, wat moontlik hier gebeur het.
9. Laat die reg sy verloop neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.