Sewe in hof wat glo kitsbank wou oopblaas

Foto: SAPD Limpopo

Sewe persone het Woensdag in die Lenyenye-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en sameswering om ʼn kitsbank te beroof.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die sewe persone, tussen 24 en 43 jaar oud, wat op 4 Mei 2020 in hegtenis geneem is, se saak is tot 13 Mei uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog. Hulle bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes is Maandag in hegtenis geneem nadat die polisie inligting oor ʼn beplande bankroof ontvang het. Die polisie in Tzaneen het inligting ontvang oor verdagtes wat in ʼn silwer Audi ry en wat glo beplan het om ʼn kitsbank by Lephepane in Maake buite Tzaneen oop te blaas. Die polisie het die voertuig genader wat langs die kitsbank geparkeer was. Toe die verdagtes die polisie gewaar, het hulle weggery. Die polisie het egter die verdagtes agternagesit en in die Bokgaga-nedersetting op hulle toegeslaan.

Beamptes het beslag gelê op ʼn onbekende bedrag kontant, springstof en ammunisie. Die Audi is ook geskut.

Die beskuldigdes is uitgeken as John Khethiwe Mahlangu (33), Maria Danny Mahlangu (43), Lepheni Patrick Mashego (40), Tebogo Lukas Molewa (34), Elias Dumisani Nkosi (41), Wonderboy Nsibane (40) en Randy Phisang Patsi (24).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.