Sewe in Wes-Kaap vas oor rybewysbedrog

Argieffoto

Die Valke en die Wes-Kaapse departement van vervoer het sewe persone in hegtenis geneem in verband met beweerde korrupsie by die toetssentrum in Khayelitsha in die Wes-Kaap.

ʼn Manlike veiligheidswag en ses vroulike bestuurslisensie-eksaminatore het na bewering geld gevra vir leerlinglisensies en rybewyse, het kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê. Die beweerde korrupsie het tussen Januarie 2015 en Oktober 2018 plaasgevind.

“Altesaam 34 verdagtes, insluitend nege eksaminatore, is tot dusver in die Wes- en Oos-Kaap in hegtenis geneem om die kwessie oor vervalste padwaardigheidsertifikate te ondersoek. Die inhegtenisnemings het tot verdere ondersoeke gelei en word ook verbind met die sewe persone wat Woensdag in hegtenis geneem is.”

Clive Vernon Scheepers (42), ʼn administratiewe klerk van die Lingelethu-Wes-toetssentrum in Khayelitsha, is op 1 November 2018 in hegtenis geneem op soortgelyke aanklagte. Dit is dus altesaam agt beamptes van dieselfde toetssentrum.

“Nog inhegtenisnemings kan moontlik volg en diegene wat vervalste lisensies bekom het, sal ook nie van vervolging vrygespreek word nie, hangende verdere ondersoek,” het Nkwalase bygevoeg.

Die sewe persone, tussen 31 en 44 jaar oud, sal na verwagting Donderdag in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog en korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.