Die hoëspoedeenheid van Ekurhuleni se metropolisie het die naweek sewe spoedvrate op die N12 tussen die Sam Green-brug en die Edenvale-afrit aangekeer vir spoedoortredings op dié stukkie deurpad.
Beamptes was Sondag van douvoordag tot 11:00 aan diens toe hulle die blitsige bestuurders betrap het dat hulle teen van 167 km/h tot 211 km/h gery het. Die voertuie waarmee hulle gejaag het, was ʼn Ford- en Toyota-nutsvoertuig, ʼn Opel-, Audi-, Ford- en Mercedes-Benz-sedan, asook ʼn Suzuki-motorfiets, sê Kobeli Mokheseng, waarnemende woordvoerder van die metropolisie.
Volgens beamptes het die verskonings wat die jaagduiwels aangebied het, gewissel van huis en kerk toe jaag tot laat wees vir ʼn hospitaalbesoek en ʼn resies. Die motorfietsryer wat teen 211 km/h aangekeer is, het gesê hy is laat vir ʼn motorfietsrit by Hartbeespoortdam.
Al sewe die oortreders is in die Bedfordview-polisiestasie van roekelose en nalatige bestuur aangekla en later op borgtog van R1 500 elk vrygelaat. Hulle sal na verwagting binnekort in die Germistonse landdroshof verskyn.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
N minimum boete van R20,000 plus 2 jaar tronkstraf soweL as lisensie vr 5 jaar opgeskort moet in werking gestel word. N klag van poging tot moord sal n bonus wees. Sluit toe en gooi sleutel weg.
Ek verkeer dan onder die indruk dat sulke bestuurders ‘n sekere tyd aangehou moet word voordat hulle in die hof moet verskyn of ‘n borgtog kan kry? Of is die wet nognie bekragtig nie. Die mense wil net nie hoor nie. Dink hulle is bo die wet verhewe.
Iets klink nie reg nie…. ‘n Toyota kan mos nie so vinnig ry nie. Klink maar vir my na n wolhaar storie.
onthou net hoe voller julle die tronke wil hê met jaagduiwels en dronk bestuurders hoe minder plek is daar vir mense wat wat moor, roof en verkrag.
Gerhardb dalk het die Toyota so vinnig gery omdat hy ver weg van n Ford Kuga wou kom :)
So ek neem aan almal wat kla oor die dronkbestuur en spoed oortreding wat hulle probeer stop sit, suip en jaag self rond.
Hoe moeilik is dit, drink by die huis.