Sewe lede van familie op Kersdag vermoor

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Sewe mense is in die vroeë oggendure op Kersdag deur ʼn familielid vermoor. Vier kinders en ʼn hoogswanger vrou is onder dié wat hul lewe verloor het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê dat ʼn man kort ná middernag sy twee broers, vier kinders en een van die broers se swanger vrou doodgeskiet het.

Die slagting het in die Jimmy Jones-nedersetting net buite Malamulele in Limpopo plaasgevind.

Een van die kinders, ʼn agtjarige dogtertjie, het op pad na die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Volgens Mojapelo het die polisie reeds die slagoffers geïdentifiseer as Mpho Donald Ndou (33) en sy drie kinders, Rendani Winnus Ndou (12), Dakalo Makondo Ndou (8) en die vierjarige Ronewa Ndou. Ndivhuwo Douglas Ndou (33), sy vrou Portia Mabasa (37) en hul eenjarige kind Wanga Ndou is ook onder die slagoffers.

Mojapelo sê die 52-jarige skieter het homself kort ná die voorval aan die polisie oorgegee waarna hy in hegtenis geneem is.

“Die man is reeds op sewe aanklagte van moord aangekla en sal na verwagting op 28 Desember in die Malamulele-landdroshof verskyn.”

Die vuurwapen wat na bewering tydens die skietery gebruik is, sal aan ballistiese toetse onderwerp word.

“Die motief vir die moorde is nog nie in hierdie stadium bekend nie, maar ʼn familietwis kan nie uitgesluit word nie,” sê Mojapelo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.