Sewe lyke in Gautengse huis gevind

Die sewe liggame, drie vroue en vier kinders s’n, is gekry in Vlakfontein, ’n township langs die N1, suid van Johannesburg. Foto: Google Maps

Gautengse polisie wil ʼn man van Vlakfontein, suid van Johannesburg, ondervra om vas te stel waarom sewe ontbindende liggame op die erf waar hy woon hom geruime tyd nie gepla het nie.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê inwoners van die township het die polisie Maandagmiddag gebel om te kla oor ʼn onaardse reuk van die erf af.

Kort voor 17:00 het beamptes die huis binnegegaan en in een van die vertrekke op vier hopies grond en klippe afgekom, vertel Masondo. In dié vertrek het hulle die liggame van twee vroue en twee kinders gekry.

Omdat die reuk ook buite die huis gehang het, het hulle in ʼn buitevertrek gesoek en daar op nog ʼn vrou en nog twee kinders se liggame afgekom.

“Die twee ouer vroue was susters,” sê Masondo, “en die ander vrou die een se dogter. Een van die kinders was ʼn seun en die ander almal meisies. Hulle is tussen twee en 11 jaar oud.”

Hy sê dit lyk asof wie ook al die liggame bedek het, die grond en klippe van buite af binnetoe gebring het. Al sewe liggame was reeds aan die ontbind.

“Dis nog nie moontlik om te sê hoe hulle dood is nie; dit sal in die forensiese ondersoek bepaal word.”

Masondo sê daar is geen tekens dat iemand by die woonplek ingebreek het nie. “Ons het ʼn man vir ondervraging ingeneem wat af en toe daar woon, maar soek na nog een, Sibusisu Ernest Khoza, wat nog Maandag daar gesien is.”

Enigiemand wat weet waar Khoza hom bevind, moet asseblief die naaste polisiekantoor of Stop Misdaad by 0860 010 111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Oe nee in hierdie hitte is dit seker ondraaglik. Siek persoon se werk

Hugh ·

Sê wie? Die berig sê niks van ledemate wat afgesny is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.