Sewe meswonde toe rowers hom aanval

Louis Myburgh (Foto verskaf deur Untu)

ʼn Brandbestryder van Transnet Freight Rail (TFR) in Oos-Londen het sewe meswonde en ʼn kopbesering opgedoen toe drie gewapende rowers hom en nog ʼn brandbestryder oorval het.

Die twee mans was besig om ʼn brand te blus by die Panmure-stasie toe hulle aangeval is.

“Ek het gedink dit is die einde en ek gaan nooit weer my familie sien nie. Dit was verskriklik,” het Louis Myburgh (56), ʼn lid van die United National Transport Union (Untu) aan Steve Harris, algemene sekretaris van die vakbond, gesê.

Myburgh en sy kollega, Len Martens (46), het Saterdag reageer toe ʼn brand langs die stasie uitgebreek het. Die brand het ontstaan toe onbekende persone die droë gras langs die treinstasie aan die brand gesteek het.

Die twee mans het die brand geblus terwyl Myburgh die beheerkamer van treinbedrywighede op hoogte gehou het.

Myburgh, die president van die Tribal Cats Bikers Klub, moes ná die brand ook ondersoek instel oor die getal maspale wat beskadig is. “Ons het gesien daar was nie enige veiligheidswagte by die stasie nie,” het Myburgh gesê. “Ons het met ons werk voortgegaan, omdat ek ʼn omvattende verslag moet indien. Toe ons wou terugkeer na ons voertuig, het drie mans ons omsingel. Die een was gewapen met ʼn vuurwapen, die ander met ʼn dolk en die derde persoon met ʼn knipmes.”

Die mans het aan hulle beduie hulle moet hul selfone oorhandig. “Gee vir my die fone en julle beursies, of ons maak julle dood,” het een van die gewapende rowers gesê.

Martens het nie sy selfoon by hom gehad nie, maar Myburgh moet ʼn selfoon by hom dra wat aan TFR behoort sodat hy met die beheerkamer kan kontak maak.

Myburgh het aan Harris gesê Martens het een van die rowers getakel. Hy het met die ander twee begin baklei en het op die treinspoor beland. “Martens kon loskom en het weggehardloop om hulp te gaan soek. Die derde rower het toe ook begin om my te slaan.”

Martens kon ʼn polisievoertuig in die pad voorkeer. Toe die polisie by die toneel opgedaag het, het die rowers met Myburgh se selfoon en beursie weggehardloop.

“Dit was die mees traumatiese ervaring sedert ek 39 jaar gelede vir Transnet begin werk het,” het Myburgh bygevoeg. “Dit is baie ontstellend. Ons het tans baie min personeel en ons moet deurgaans op bystand wees. Ek kan nie eers meer onthou wanneer laas ek tyd saam met my gesin deurgebring het nie.”

Martens werk al nege jaar lank vir Transnet.

Harris het gesê die voorval is nóg ʼn voorbeeld van die verwoestende impak van die “swak besluite” wat die voormalige raad van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) op spoorweginfrastruktuur gehad het. “Spoorweginfrastruktuur word landswyd geteiken deur kriminele en georganiseerdemisdaad-sindikate wat weet dit is ʼn sagte teiken, omdat daar nie meer veiligheidswagte ontplooi is om die bates te beskerm nie.”

Alhoewel daar al talle beloftes aan Untu gemaak is dat 3 348 beamptes van die spoorwegeenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens landswyd ontplooi is om misdaad te bekamp, is hulle steeds nêrens te sien nie. “Sodra dit verkiesingstyd is, is daar baie beloftes van politici oor hoe hulle veilige en betroubare treine sal verskaf, maar die werklikheid is dat daar nie politieke wil is om dié nasionale bate te verbeter om goedkoop vervoer vir pendelaars te verskaf nie,” het Harris bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harry ·

Maar Minister Cele is meer bekommerd oor die drank verbod as die veiligheid van mense wat veiligheid bevorder. Skande!

LiveAndLetLive ·

SA is soos die wilde weste – waar dit gaan draai kan mens seker net raai, ons het groot probleme in hierdie land.

Moedeloos ·

Transnet gaan jou, soos baie voor jou, vir die wolwe gooi. Hulle het geen simpatie vir hul werkers nie dink net aan hulself.

Blomme ·

Is daar regtig nie meer goeie nuus in SA nie…Is geweld en moorde nou besig om ons land te kaap! Ons leiers moet openlik erken… Hulle het beheer oor die volk verloor.. Tyd vir vernuwing in ons leierskorps.. Ons land gaan ten gronde!!

Elsie ·

Nie in die oe van die kaders nie. Volgens hulle is ons land nie in rommel toestand nie maar 1ste werelds

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.