Sewe op hoewe vasgetrek na trok verlate gevind is

Foto: SAPD

ʼn Verlate vragmotor het die polisie na ʼn hoewe in die noorde van Pretoria gelei waar ses mans en ʼn vrou in hegtenis geneem is vir die diefstal van farmaseutiese produkte.

Polisiebeamptes van Akasia het Dinsdag op die toneel in Railway-straat in die Orchards-gebied afgekom waar werknemers van ʼn motoropsporingsmaatskappy by ʼn verlate vragmotor besig was.

Volgens voorlopige ondersoek behoort die vragmotor aan ʼn farmaseutiese maatskappy en was dit na ʼn verskaffer onderweg om mediese voorraad af te lewer.

Die motoropsporingsmaatskappy is in kennis gestel nadat die vragmotorbestuurder nie bereik kon word nie en vermoed is dat van die gemagtigde roete afgewyk is.

Foto: SAPD

Die polisie het nadat die vragmotor gevind is inligting begin opvolg wat hulle na ʼn hoewe in die Strydfontein-omgewing gelei het.

Beamptes het hier op mediese voorraad afgekom wat glo van die vragmotor af gesteel is en sewe verdagtes is in hegtenis geneem.

Die waarde van die produkte is nog nie vasgestel nie. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die verdagtes sal van dwarsboming van die gereg en die besit van gesteelde goedere aangekla word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.