Sewe reeds vas na moord op polisieman

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: SAPD)

’n Sewende verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord verlede maand op ’n polisiesersant in Mpumalanga.

’n Span, bestaande uit lede van die taktiese reaksie-eenheid, misdaadintelligensie en die Valke, is na die moord op sers. Enock Themba Nsimba saamgestel om die verdagtes aan te keer. ’n Sewende verdagte is onlangs aangekeer, maar daar word steeds na nog verdagtes gesoek in verband met die voorval.

Ses van die verdagtes, Fraser Sithole (32), Thokozani Hadebe (27), Bheki Maluka (35), Remember Lixoto (35), Thabiso Ntsane (36) en Nkosinathi Shabangu (38), het reeds Maandag in die Kabokweni-landdroshof buite Mbombela (Nelspruit) verskyn. Hulle staan onder meer tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

Die ses verdagtes is op 25 Maart in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het dat ’n groep verdagtes by ’n gastehuis in Kabokweni, ʼn nedersetting buite Witrivier, bymekaar is en glo ’n rooftog beplan.

’n Skietgeveg het tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek en Nsimba is in die proses gewond. Hy is kort na sy aankoms by ’n hospitaal dood verklaar.

Daar is tydens hul inhegtenisneming op ’n AK47, twee aanvalsgewere en tien 9 mm-pistole beslag gelê sowel vier motors wat by die gastehuis gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Ja, nê. Hoe vinnig word daar nie opgetree nie, maar plaasmoordenaars word nooit opgespoir nie. Net soos die een wat 20 jaar by ‘n gesin gewerk het, ma en dogter vermoor het en nou op R1000. 00 borg vrygelaat is. Om maar een geval te noem. Nie dat ek sê dat dit nie reg was om die polisieman se moordenaars so vinnig te van nie, maar dan moet dieselfde geld vir enige burger van hierdie land wat vermoor word.

efjy ·

Tronkstraf sal nie help om die soort misdaad te bekamp nie. Ons is terug in die wilde weste. Die ou wat eerste skiet sal langste lewe. Beproef doodstraf vir so twee jaar en ek kan waarborg dat misdaad baie sal verminder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.