Sewe SA’ners uit Chinese tronke vrygelaat

Tristan Lee Niemand. Foto: Facebook

Sewe Suid-Afrikaners wat in tronke in die Jiangsu-provinsie in China aangehou is in verband met visumoortredings, is vrygelaat en sal binnekort na Suid-Afrika gedeporteer word.

Dit sluit die 19-jarige Tristan-Lee Niemand van Oos-Londen in wat vir langer as ʼn maand in China aangehou is, glo onder haglike omstandighede, nadat sy na dié land gereis het om Engels te gee.

Stacey-Lee Niemand, Tristan-Lee se ma, het vroeër aan EWN gesê haar dogter is met ʼn kortverblyfvisum na China nadat sy deur ʼn agentskap gewerk het om daar te gaan skoolgee. Dit is glo aan haar belowe dat sy haar werksvisum sou kry wanneer sy daar aangeland en die opleiding voltooi het, maar dit het nie gebeur nie.

Tristan-Lee het volgens haar ma net 11 dae gewerk voordat sy op 16 November in hegtenis geneem is op aanklag dat sy onwettig in die land werk.

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), sê die sewe Suid-Afrikaners is gedeporteer as deel van China se vervolgingsprosesse en nie as gevolg van onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse owerhede nie.

“Daar was geen onderhandelinge nie. Ons respekteer China se hofprosesse. Natuurlik het ons druk geplaas om die proses te bespoedig,” sê hy.

Hy sê die sewe Suid-Afrikaners is almal deur skole in China in diens geneem om as Engelsonderwysers daar te werk. Hulle behoort almal teen Vrydag terug in die land te wees. “Ons wag net vir die skole wat hulle vliegkaartjies moet betaal om dit te doen en dan sal hulle op pad terug wees.” Volgens hom sal al sewe Suid-Afrikaners nooit weer toegelaat word om China binne te gaan nie.

“Suid-Afrikaanse diplomate in China sal voortgaan om met die betrokke skole en die plaaslike owerhede te skakel om seker te maak dat die reëlings vir hul terugkeer gefinaliseer word en dat hulle so gou as moontlik op pad huis toe is.”

ʼn Familielid van Tristan-Lee het ook die nuus op Facebook bevestig. “Dit is bevestig dat Tris [sic] vrygelaat sal word, hopelik teen Vrydag. Die familie wil julle almal bedank vir jul ondersteuning aangesien dit nie sonder julle moontlik sou wees nie,” lui die boodskap.

Intussen het Dirco bevestig nog agt Suid-Afrikaners wat in die Zheijang-provinsie in China aangehou is, sal op 23 Desember terug na Suid-Afrika gedeporteer word. Die reëlings rakende hul terugkeer sal getref word sodra hulle vrygelaat is.

Dirco het verlede week bekendgemaak dat sowat 800 Suid-Afrikaners in buitelandse tronke aangehou word. Meer as 200 hiervan is in Suid-Amerika op dwelmverwante aanklagte skuldig bevind. Altesaam 98 Suid-Afrikaners is die afgelope ses maande in China aangehou vir visumoortredings.

Stacey-Lee kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

marco polo ·

Ek het voorheen in Jiangsu provinsie gewoon en woon nou in Zhejiang, die twee provinsies wat in die artikel genoem word. Die immigrasie owerhede is baie paraat en hulle GAAN jou kom opsoek. As jy op die verkeerde visa werk, is moeilikheid gewaarborg. Moenie dit doen nie, dis nie die moeite werd nie. Nietemin bly almal is veilig.

Voordat jy waai Kraai en Meraai … ·

Vergewis jouself van visumvereistes voordat jy na ‘n ander land reis. Veral as jy van plan is om daar te gaan werk. Jy kan in die tronk beland of teregestel word en net jou oorblywende as sal in ‘n boksie teruggestuur word. Daar is ook geen waarborg vir jou geliefdes dat dit wel jou bietjie as sal wees nie. In sommige lande kan die Suid-Afrikaanse ambassade weinig doen om jou te help aangesien SA burgers ander lande se wette en vereistes moet gehoorsaam. Vergewis jouself ook van die kulturele en ander gebruike, wette, menseregte en reëls. Sommige lande verskil drasties van die kultuur en wetlike vereistes wat in Suid-Afrika van toepassing en aanvaarbaar is.

Annamarie Olivier ·

Moenie China toe gaan nie. Leer asseblief uit die mense se ondervindings.

Behou jou kop jou lyf ·

Moet ook nie dink jy kan na ‘n fundamentalistiese Islamitiese land reis en probeer om lemoene wat vol Jenewer of Wodka gespuit is insmokkel nie. Jy mag dalk net jou kop verloor.

Annelize ·

“…sal al sewe Suid Afrikanes nooit weer toegelaat word om China binne te gaan nie.” – ek glo nie ek sal OOIT weer my voete daar WIL sit as ek een van die 7 was nie!

Tobie Klarens ·

Waarom nie? Die visumvereistes vir Engels gee in Sjina, is eenvoudig. Slegs n Z visum is geldig en om dit te kry, het jy n graad nodig en n Tefl of Celta diploma. Eenvoudig. So, as 19-jariges kwansuis gaan “onderwys” gee, dan bluf hulle hulself en ander, maar nie die Sjinese nie

R ·

Lees mense nie meer nuus nie? Dis nou al die hoeveelste keer hierdie JAAR dat daar groepe mense uit China deporteer word vir dieselfde rede. Maar steeds voeter mense soontoe op grond van beloftes. Kan hulle nie Google nie?

Sus ·

Stem saam! Was eenmaal daar en wil daai plek nooit weer sien nie.

Chris du preez ·

Kry die regte visum en jy sal geen probleme hê nie.

Paul ·

Hier in SA kan die Chinese rondloop, handeldryf en smokkel soos hulle wil en hulle kom niks oor nie. Wys jou in watter gemors sit ons.

Riaan ·

Presies Paul. Zimbabweirs sal nie waag om die misdade in hulle eie land te pleeg wat hulle hier pleeg nie. Polisie daar skiet eers en vra vrae later.Die Chinese stroom ons land in,vat oor,en saam met dit word containers vol chinese goedkoop gemors in Afrika gedump. Veral gemors soos baie van die parte waarmee Sasol onderhou word.Groooot boem een van die dae.

J ·

So jy wil he die SA regering moet die wette implimenteer? Maar in dieselfde asem kwaad omdat China kriminele vang en tronk toe stuur?

GRIET ·

Jongmense,moet maar net DEEGLIK navorsing doen oor visums en verblyfpermitte en regulasies…
Jaaaa…dis ñ kommunistiese land, maar nêrenste in Sa,gaan Eng onnie R25000 per maand betaal word nie…ek weet, my broerskind is noual 2 jaar in China en hýt geen klagtes of moeilikheid

Basjan ·

Chris du Preez, ek stem saam met jou. Maak seker dat jou visum ooreenstem met die doel van jou besoek. Moenie op (skelm) reisagente se beloftes staatmaak nie.

Onnie in China ·

Ons gesin bly in China en ek gee wettiglik Engels by ‘n universiteit. Ek werk drie dae per week, het vier maande lank vakansie en kry dubbeld die salaris wat ek in SA gekry het. Ons het twee jaar lank voorberei om te kom en het self met die universiteit geskakel. Ons is baie gelukkig en my baas gaan uit haar pad om ons gesin te akkommodeer. Daar is geen manier dat ‘n 19-jarige buitelander wettiglik in China kan werk nie. Hierdie jongmense word gedeporteer omdat hulle agente se stories geglo het en nie self hulle huiswerk gedoen het nie. Ek hoop van harte ander hoopvolles lees hier en doen hulle navorsing voordat hulle op ‘n vliegtuig na ‘n kommunistiese land toe klim.

IK ·

En die agentskap(pe) is . . . ? Indien hulle in SA is behoort die regering ondersoek in te stel.

SjN ·

Volg die regte prosedures en voldoen aan die nodige vereistes en jy gaan lekker geld maak daar deur onderwys te gee.

Wiehan ·

Ek wonder wanneer gaan ons regering optree teen al die onwettige Chinese in SA, veral die wat vir Huawei en ZTE werk. Daar is duisende van hulle in hul kantore in Woodmead. Kyk net in die oggende hoeveel busse met Chinese daar aankom. Ek weet vir ‘n feit dat die meeste hier is op ‘n 90 dae vakansi visum. Hulle kan in ons land onwettig werk maar ons nie in hul land nie.

Jons ·

@Wiehan, so is dit die Chinese se probleem dat ons regering nie streng is nie? Net omdat SA onwettigheid toelaat, beteken nie hul gaan nie. Baie eenvoudig, moenie die wet oortree nie.

Ig ·

Ek is gereeld in China en sal wat wil gee om permanent daar te bly. Daar is ten minste wet en orde en ek het nog nooit onveilig daar gevoel nie. Die ou kla kouse wat hulle monde so uitspoel oor China kan n hele paar lesse daar gaan leer. Die jonges wat daar op gesluit was het hopelik nou geleer dat as jy nie deeglik jou huiswerk doen nie is daar gevolge.

Alida ·

Die feit dat hul gedeporteer is kan in die toekoms teen hulle tel as hul visums moet kry om ander lande te besoek of daarheen wil emigreer. Die vragie ” was jy al voorheen gedeporteer” verskyn dikwels op sodanige aansoeke.

KL ·

Wel Alida, krimineel is krimineel, dit moet aangedui word dat hul gedeporteer was weens wet oortreding, onwetting in die land probeer werk. Dis niks minder as reg nie.

Sean ·

Lees niemand dat die arme mense moet wag dat die skole eers hul vliegtuig kaartjies moet koop nie??????????????????? Die VSA sal sy burgers gaan haal op die eindhoeke van die wereld

Was al baie oorsee ·

Met my belasting geld? Nee! Versekerlik het hulle vir retoerkaartjies betaal. So haal maar uit en wys. As jy so goedgelowig is, kan jy maar self betaal om huis toe te kom!

Cornelia ·

So bly oor die goeie nuus, Tristan – Lee en die groepie wat nou terugkeer. So leer mens te dikwels op die harde manier. Hoop en bid dat hulle gesond is en met lewensmoed na nuwe geleenthede sal streef om te woeker met hul talente. Nou kan my senuwees ook ontspan.

Renschia Lambrechts ·

Ons dogter werk al van Maart af in China vir Disney English. Sy is gelukkig, kry beter salaris as onderwysers hier, het volle medies en nog talle ander voordele. Haar visum aansoek het 3 maande gevat. Die maatskappy het alles gedoen. Ons het ook alles goed nagevors en was as ouers heeltyd deel van die proses. Volg eerder die regte kanale as om kortpad te vat. As iets te goed klink om waar te wees, dan is dit. Met die regte visum kan jongmense goed geld maak en die wêreld sien!

Jan Alleman ·

Die ou reël. As jy weet ‘n hond byt, hoekom wil jy in sy erf gaan speel?

Daan ·

@Sus, hul het die wet oortree, so dit maak hul misdadigers, en dis hoe n krimineel behandel moet word. Moenie moan omdat SA niks doen nie, China is streng, eenvoudig, moenie die wet oortree nie.

Faan Bothma ·

Hierdie is tiepise snert nuus! Ek bly al 12 jaar lank in Sjina en het nog nooit enige problem gehad nie. Wat meer is, 2 weke voor my visum verval bel die owerhede my en vra of ek my visum wil hernu. Ons maak ‘n afspraak en by aankoms by die visum kantoor word ek sit gemaak en kry ‘n glas warm water sodat ek my eie tee blare daarin kan sit. Hulle vat my paspoort en binne 15 minute kry ek dit terug met die nuwe visum.

Sjina is ‘n fantastiese land om in te wees !

Tiesie ·

Ek dink hulle moet die company se naam publiseer so dat jongmense die company met opset kan vermy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.