Sewe sterf in Mpuma-ongelukke

(Argieffoto: WCHEMS/Twitter)

Vier persone is Saterdagmiddag dood in ʼn ongeluk op die R540 tussen Belfast en Dullstroom in Mpumalanga.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sê die sportnutsvoertuig waarin hulle gery het, het omstreeks 17:00 omgeslaan. “Die oorledenes is twee mans en twee vroue. Hulle is almal op die toneel dood.”

Drie ander persone, insluitend die bestuurder, het ernstige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Intussen is drie mense Saterdag net ná middernag dood op die R580 tussen Secunda en Embalenhle tydens ʼn trompop botsing tussen twee motors. “Ses mense het kritieke beserings opgedoen en hulle is na hospitale in Evander en Gauteng geneem na aanleiding van die aard van hul beserings.”

ʼn Ondersoek na albei ongelukke is van stapel gestuur.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het ʼn beroep op motoriste gedoen om waaksaam te wees op die pad. “Een sterfte is een te veel. Ons moet ook ons deel doen om lewens te red. Dodelike ongelukke het ʼn verwoestende impak op families en die gemeenskap.”

Shongwe het sy meegevoel betuig met die families van die oorledenes en wens diegene wat beserings opgedoen het ʼn spoedige herstel toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Wasr is die so call curve van 12.00 tot 4 dit is n joke dit is op die twede ongeluk gemik