Sewe stropers in Pelgrimsrus betrap

(Foto verskaf deur SAPD Mpumalanga)

Waarskuwing: Foto’s onderaan die berig kan sommige lesers ontstel.

Die polisie in Mpumalanga het ʼn groot deurbraak gemaak toe sewe vermeende stropers met verskeie karkasse van wilde diere betrap is.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê beamptes het Maandagoggend omstreeks 03:00 beslag gelê op die karkasse, twee jaggewere, bosmesse, ammunisie en ʼn voertuig in die Mauchsburg-plantasie in Pelgrimsrus.

“Volgens inligting is die verdagtes, tussen 17 en 42 jaar oud, aangekeer toe hulle die plantasie betree het. Hulle is deur tegnologiese toestelle opgemerk.”

Veiligheidsbeamptes is na die ligging ontplooi waar verskeie wildspesies geslag en agterop ʼn ligte afleweringsvoertuig gelaai is.

“Die polisie in Sabie is na die toneel ontbied en die saak is aan Pelgrimsrus oorhandig vir verdere ondersoek. Beamptes van natuurbewaring is ook ontbied. Die totale waarde van die geslagte wild sal deur die natuurbewaringsbeamptes bepaal word.”

Die polisie het beslag gelê op twee gelisensieerde jaggewere, 500 patrone, sewe selfone, ses flitse en bosmesse. Die voertuig wat gebruik is om die karkasse mee te vervoer is ook geskut. “Die voertuig is nie as gesteel aangemeld nie, omdat die eienaar een van die verdagtes is.”

Die voorlopige ondersoek het onthul dat die karkasse aan onwettige mynwerkers in en rondom Pelgrimsrus verskaf sou word.

“Die ondersoek duur voort en die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Is daar wraggies niks maar niks wat behoue bly nie…erger as aasvoels…geen gewete…die 3 B’s BEWOON BEWERK EN BEWAAR beteken vir hulle zero

Carl ·

Hoeveel van die jaggewere kom van plase af waar plaasaanvalle plaasgevind het? Hoe lank gaan dit voortduur, totdat daar niks meer oor is om te stroop nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.