Sewe stropers reeds vas in wildtuin

Foto: SAPD/Facebook

Sewe vermeende renosterstropers is in die eerste paar dae van die jaar in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem.

Isaac Phaahla, die wildtuin se woordvoerder, het gesê die inhegtenisnemings is oor ʼn tydperk van nege dae gedoen.

ʼn Groep van drie vermeende stropers is op 2 Januarie in die gebied tussen Laer-Sabie en Skukuza in hegtenis geneem tydens ʼn verlengde dag lange operasie.

Volgens Phaahla het veldwagters in samewerking met lede van die honde-eenheid en die lugvleuel op die groep toegeslaan. “Daar is op ʼn swaarkaliber-vuurwapen, ammunisie en stroop-toerusting beslag gelê.”

Op 7 Januarie is nog ʼn groep van drie vermeende stropers in hegtenis geneem. Daar is ook op ʼn swaarkaliber-vuurwapen, ammunisie en stroop-toerusting beslag gelê.

Volgens Phaahla was die ander inhegtenisneming op 9 Januarie nadat ʼn veldwagter weer op ʼn groep van drie vermeende stropers in die Tshokwane-deel van die park afgekom het.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het die inhegtenisnemings verwelkom. Hy het gemeenskappe versoek om steeds hul samewerking aan die owerhede te bly gee om stropers vas te trek.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Renosterliefhebber ·

En daar is daar nogsteeds n groep op Facebook wat die foto plasings van renosters goedkeur en dit goed praat!

Naomi Berger ·

Ek voel baie sterk daaroor dat strawwe baie swaarder moet wees vir hierdie soort oortreedings.
Tans is dit nie ‘n afskrikmiddel en is dit nog die moeite werd om te stoop.

KP ·

Waar kry hulle swaarkaliber- vuurwapens, of was hulle oppad om dit in te handig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.