Sewe van polisie kry trekpas oor beweerde korrupsie

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie het sewe van sy lede weens hul beweerde betrokkenheid by korrupsie afgedank. Diegene wat afgedank is, sluit verskeie senior offisiere in.

Brig. Jabez Naidoo, stasiebevelvoerder van die Punt-polisiestasie in KwaZulu-Natal, brig. Lesetja David Mogotlane, afdelingshoof vir meganiese dienste, kol. Thomas Dumisani Marima, afdelingshoof vir voertuie en taktiese toerusting, lt.kol. Veeran Naipal, verbonde aan voertuigsteun by die Pretoria-Sentraal-motorhawe, lt.kol. Alpheus Nkosibanke Makhetha, ʼn tegnikus verbonde aan die voertuigvloot, asook Jacoba Magdelena Havenga, hoof- provinsiale klerk by die nuwe voertuigstoor in die Wes-Kaap, en Marcell Duan Marney, ook ʼn administrasieklerk, het die trekpas gekry.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die sewe lede is deel van ʼn groep van 16 verdagtes wat in Junie vanjaar in hegtenis geneem is deur die teenkorrupsietaakspan wat genl. Khehla John Sitole in 2017 reeds aangestel het.

Die aanklagte teen hulle sluit bedrog, korrupsie, diefstal en geldwassery in.

“Hoewel die verdagtes in die saak in hierdie stadium strafregtelik vervolg word, is die sewe departementeel verhoor, skuldig bevind en gevolglik ontslaan,” het Naidoo gesê.

Sitole het ook die polisiebestuur se houding jeens die uitroei van korrupsie in polisiegeledere benadruk, “ongeag die rang of posisie wat ʼn lid in die polisiediens beklee”.

“Ek doen weereens ʼn beroep op polisiebeamptes om hulle te weerhou van enige vorm van misdaad of korrupsie, aangesien sulke optrede niks anders tot gevolg gaan hê as ʼn skielike einde aan jou vryheid en loopbaan nie,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Thelsa ·

Aitsa ! Dit is waar daar begin moet word. Begin die gemors van binne skoonmaak. Geen van hierdie korrupsie en bedrog sal plaasvind sonder hulp van binne nie.

Louwrens ·

Alles goed en wel maar daar is nog BAAAAAAIE van hulle in die diens.
Wonder of hulle gejaag is met of sonder enige verdere voordele, pensioen ens . . . .

Sarel ·

Hoe verwag ons die manskappe moet hulle werk bevredigend doen met sulke korrupte Bestuur. Wat was hierdie mense se kwalifikasies vir die poste. Baadjies vir Boetties

Marius ·

Dit is seker wat gebeur as jy in n pos sit en nie bevoeg is nie , dan praat die rang op jou skuoer en die onderdane moet spring want die rang het gepraat .

Casper ·

Dit is goeie nuus maar ongelukkig het dit ‘n kultuur geword waarin loyaliteit plek moes maak vir gierigheid en daarom is dit nie die einde daarvan nie.

Stefan ·

Ek hoop hulle word heelwat swaarder gestraf as om net hul job te verloor.

Persheks Adri ·

Wragtag pragtig, maar wat van die res van die uniforms wat skuldig is?

Hennie J ·

Ek glo daar is onuitgevangde kaders wat na die vakante poste bevorder kan word.

SomeOne ·

en dis nie eers ‘n afskrik middel vir ander “misdadigers” nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.