Sewe vas ná drie voertuigkapings

Die polisie in Port Elizabeth het talle vuurwapens teruggekry in optredes die afgelope week. Foto: SAPD

Die polisie in die Oos-Kaap het sewe verdagtes aangekeer nadat beamptes drie voertuie teruggekry het wat in afsonderlike voorvalle gekaap is.

Kapt. André Beetge, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê in die eerste geval het drie verdagtes na bewering ʼn Hyundai H100-afleweringsvoertuig Vrydag omstreeks 14:30 in die township Motherwell by Port Elizabeth gekaap.

“Die bestuurder en sy assistent was besig om vrieskaste in die omgewing af te lewer toe die drie hulle glo met wapens gedreig en die voertuig gekaap het,” sê Beetge. “Hulle is agterin die voertuig gedwing, waarna die drie met hulle weggery het.”

Reeds by die eerste verkeersligte waar die vermeende kapers stilgehou het, kon die twee slagoffers by die voertuig uitspring en veilig wegkom om die polisie in te kennis te stel, vertel Beetge. Beamptes het die voertuig ʼn uur later verlate in ʼn ander deel van die township aangetref.

Ook omstreeks 14:30 het twee verdagtes ʼn Isuzu-bakkie wat as koeriervoertuig gebruik word, in die township Govan Mbeki, sowat 13 km noordwes van die Baai se middestad, met vuurwapens gekaap terwyl die bestuurder besig was met aflewerings, sê Beetge.

Skaars 10 minute later is die bakkie verlate aangetref in Bartstraat, Ezinyoka, naasaan Govan Mbeki. Die enkele pakkies wat nog afgelewer moes word, is uit die voertuig vermis.

In al drie kapings in die noorde van Port Elizabeth is die betrokke voertuig binne ’n uur teruggevind, onder meer dié Nissan-bakkie in Motherwell. Foto: SAPD

Beetge vertel sowat 40 minute later is ʼn derde voertuig gekaap, dié keer ʼn wit Nissan NP200-bakkie waarmee skoonheidsprodukte afgelewer word, in Captainstraat, Motherwell.

Twee verdagtes het die bestuurder en sy helper met vuurwapens uit die bakkie bedwing en daarmee weggery met die bokse vol produkte nog op die bak. Hulle het die slagoffers ook glo van vier selfone beroof.

In dié geval is die voertuig binne ʼn uur, omstreeks 16:00, deur lede van Motherwell-polisiegroepering se operasionele bevelsentrum verlate in Mbokwanastraat, Motherwell, gekry – sonder sy vrag, sê Beetge.

“Nadat hulle flink inligting opgevolg het, het beamptes van Ikamvelihle ʼn huis in Ingwestraat deursoek, waar hulle op die bokse met skoonheidsprodukte ter waarde van R300 000 afgekom en daarop beslag gelê het. Die vier selfone is ook teruggekry.”

Beetge vertel nadat beamptes die woonplek deursoek het, het hulle afgekom op twee vuurwapens en 12 rondes ammunisie waar dit in ʼn kas weggesteek was.

Sewe verdagtes, onder wie ʼn vrou van 38, is in hegtenis geneem. Die mansverdagtes se ouderdomme wissel van 25 tot 42 jaar.

Die verdagtes kom na verwagting Maandag in Motherwell se landdroshof voor op aanklagte van die besit van gesteelde goedere en die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens, sê Beetge. “Hulle sal ook ondersoek word om hul moontlike betrokkenheid by die kaping te bepaal.”

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van Motherwell se polisiegroepering, het die beamptes geloof wat by die optrede betrokke was. “Ons is besig om ons strate skoon te maak van onwettige vuurwapens,” het hy Vrydag gesê.

“In die afgelope week het ons 14 vuurwapens teruggekry, waaronder ʼn haelgeweer en ʼn geweer wat in ʼn saak op [die dorpie] Pearston gesteel is. Ons het 14 verdagtes aangekeer en nog twee is doodgeskiet terwyl hulle gewapende rooftogte uitgevoer het.”

Rabie sê die polisiediens sal nie onwettige vuurwapens duld nie en mense wat dit gebruik om misdaad te pleeg, sal met die volle omvang van die gereg te doen kry. “Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om standpunt in die te neem saam met die SAPD en van dié misdadigers en hul vuurwapens ontslae te raak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Brutus ·

Baie goeie werk deur die Polisie. Die skurke moet van die strate verwyder word ons almal moeg vir misdaad maar daar nog baie skurke om aan te keer reg oor die hele SA.

AW ·

“The organisation Gun Free South Africa says that the greatest sourse of illegal weapons is loss and theft. According to them, an average of twenty guns a day are stolen from civilians and two a day from the police. The real figure, however? Is probably significantly higher, since it is safe to assume that not all gun theft is reported to the police.” (Page 211 – HEIST! – South Africa’s Cash-In-Transit Epidemic Uncovered – Anneliese Burgess, 2018)

Hoc est bellum ·

If guns are outlawed, only outlaws will have guns. No further discussions necessary. FULL STOP!

Morné van Rooyen ·

Dagsê Bernard! Dankie dat jy ons bewus gemaak het van die fout. Dis reggestel. Groetnis, Morné nms. Maroela Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.