Sewe vas ná noodlottige skietvoorvalle by twee skole

Vuurwapens waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Skietvoorvalle by twee skole in KwaZulu-Natal het onder meer die lewe van ʼn skoolhoof geëis en sewe verdagtes is sedertdien in hegtenis geneem.

ʼn 26-jarige vrou wat as ʼn nakomingsbeampte gewerk het, is Vrydagoggend op die perseel van ʼn skool in Maphumulo doodgeskiet. Die verdagtes het van die toneel gevlug en die polisie is ontbied.

Volgens brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het beamptes twee mans wat met ʼn haelgeweer en ʼn mes gewapen was, in ʼn woud voorgekeer. Een van die verdagtes is noodlottig gewond deur die polisie en die ander een is in hegtenis geneem.

Die polisie het op die wapens beslag gelê. Die verdagte sal binnekort in die Maphumulo-landdroshof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Ammunisie en selfone waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

In die ander voorval is ʼn 46-jarge skoolhoof Vrydagmiddag by ʼn skool in Msinga doodgeskiet. Die verdagtes het in ʼn wegkommotor op die vlug geslaan. Die motor is kort daarna enkele kilometer van die toneel gevind waar dit aan die brand gesteek is.

“Die verdagtes het toe na bewering ʼn onderwyser voorgekeer wat op pad huis toe was en in haar voertuig gevlug. Die polisie het die voertuig in die KwaDolo-reservaat in Greytown onderskep en ses mans is in hegtenis geneem. Die polisie het op ʼn R5-geweer, twee rewolwers, ammunisie asook agt selfone en die gekaapte voertuig beslag gelê.

Die ses verdagtes, tussen 26 en 38 jaar oud, sal binnekort in die Greytown-landdroshof verskyn op aanklag van moord, kaping en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die vuurwapens waarop beslag gelê is sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die uitvoering van enige ander misdade gebruik is.

Kwazi Mshengu, LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, het gesê die skoolhoof is glo in sy kantoor ten aanskoue van onderwysers en leerders doodgeskiet. ʼn Afvaardiging van senior amptenare is reeds na die skool gestuur om meer inligting in te samel en die nodige ondersteuning te bied.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Goeie genade nog moord en dood! Die kriminele is opgelei en slim dis skrikwekkend verby. Ons is nêrens veilig nie ook nie ons kinders nie.

Sterkte vir almal en ek hoop daai kinders en onderwysers kry sielkundige bystand so iets bly altyd by ‘n mens!

Sarel ·

Bheki Cele waar kry die mense ‘n R5
Maar jy wil Burgerst wettig oor Vuurwapens besit ontwapen

Danie ·

Nogal ‘n R5 betrokke.
Geen haan sal kraai oor waar daai geweer vandaan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.