Sewe vas ná polisiebeampte se dood

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

Sewe verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn polisiebeampte, Akani Brondly Mongwe (30) by Braamfischerville in Gauteng.

“Daar is beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens en twee voertuie is gekonfiskeer,” het kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die verdagtes, tussen 20 en 45 jaar oud, sal Woensdag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord, sakeroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

“Nog twee verdagtes was vermoedelik betrokke en die soektog duur voort,” het Dlamini bygevoeg.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, het die vinnige reaksie van die span speurders geloof. “Dit bring verligting aan die provinsiale bestuur, die beampte se familie en sy kollegas asook die plaaslike gemeenskap. Die polisie sal nooit rus totdat alle polisiemoordenaars aangekeer is nie.”

Nog ʼn polisiebeampte wat tydens die voorval geskiet is, sterk aan in die hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig die twee polisiekonstabels van Dobsonville was Maandag in die vroeë oggendure besig met patrolliewerk in Braamfischerville toe ʼn groep verdagtes skielik op hulle losgebrand het. Die konstabels het versterking ontbied en die polisie se honde-eenheid het reageer. Met hul aankoms op die toneel het die verdagtes ook op hulle losgebrand en ʼn skietgeveg het ontstaan.

Die groep verdagtes, wat glo vroeër ʼn kitsbank by ʼn vulstasie in Braamfischerville opgeblaas het, het in twee voertuie gevlug. Een voertuig het teen ʼn huis gebots waarna een verdagte doodgeskiet is en ʼn ander ontsnap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.