Sewe vas ná talle konsertgangers glo beroof is

Foto: Stad Johannesburg/Twitter

Sewe mense is in hegtenis geneem nadat talle konsertgangers Sondag by die Global Citizen Festival by die FNB-stadion naby Soweto, suidwes van Johannesburg, glo beroof is.

Michael Sun, Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het Maandag gesê die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) het bevestig dat sewe mense in hegtenis geneem is op aanklagte van onder meer roof en aanranding van ʼn polisiebeampte. “Ons wil ons diepste spyt uitspreek aan almal wat deur hierdie voorvalle geraak is en ʼn beroep doen op slagoffers om na vore te kom en sake by die polisie aanhangig te maak sodat dit ondersoek kan word,” het Sun gesê.

Volgens Sun is daar slegs een formele aanklag by die polisie aanhangig gemaak in skrille kontras met die talle voorvalle waaroor daar in die media berig word. Hy sê die verdagtes wat in hegtenis geneem is, word by die Booysens-polisiestasie aangehou.

Die Global Citizen Festival is gehou ter ere van Nelson Mandela wat vanjaar 100 jaar oud sou geword het. Talle internasionale musieksterre soos Beyonce, Jay-Z, Ed Sheeran en Usher het tydens die konsert opgetree.

Maroela Media het vroeër berig konsertgangers het beweer dit het baie lank gevat om die stadion te verlaat weens druk verkeer en talle mense is in dié tyd beroof. Mense het op sosiale media vertel die stadion het in ʼn “oorlogsone” verander met mense wat glo van hul waardevolle besittings beroof is, asook vroue wat daar naby vir vervoer gewag het wat glo geteister is. Dit het alles glo plaasgevind sonder enige veiligheidspersoneel in sig.

Gautrein het gesê talle van sy busse was in die verkeersopeenhoping vasgekeer, terwyl Uber se tariewe vir dié geleentheid vervierdubbel het weens die chaos.

Daar was ook berigte van mense wat steekwonde en ander beserings opgedoen het terwyl hulle beroof is.

Volgens Sun was die JMPD verantwoordelik vir verkeersbestuur by die geleentheid en is 236 metropolisiebeamptes en verkeersbeamptes, 104 patrollievoertuie, 18 motorfietse en 11 perde van 06:00 Sondag tot 07:00 Maandag ontplooi om met die verkeerbestuur te help. Hy sê ʼn span van die stad se nooddienste was ook deurentyd op bystand om enige voorvalle of noodgevalle te hanteer.

Volgens Sun was die algehele beplanning en bestuur van die geleentheid deur die SAPD se nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur (Natjoints) beheer. Talle lede van die presidensiële beskermingsdienste was ook deel van die beplanning aangesien verskeie staatsamptenare die geleentheid bygewoon het.

Hy sê daar is ook ʼn veiligheidsarea opgestel waar konsertgangers vir taxi’s kon wag, maar dat sommige taxi-operateurs vermoedelik hul passasiers gevra het om na die nabygeleë vulstasie te stap om daar opgelaai te word en dat konsertgangers sodoende buite die veiligheidsarea beweeg het.

Sun sê amptenare van die Stad Johannesburg is tans in gesprek met die SAPD om agter die kap van die byl te kom oor wat presies by die fees gebeur het en hoe dit kon gebeur het.

Die bewerings kom nadat die wêreldbekende groep Guns N’ Roses kort vantevore 65 000 aanhangers na hul konsert by die FNB-stadion gelok het en daar slegs een voorval (vermoedelik ʼn geval van huishoudelike geweld) by dié geleentheid plaasgevind het.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die SAPD, het ontken dat daar swak sekuriteit en wetstoepassing buite die stadion was ná die Global Citizen Festival en sê mense wat beweer dat hulle onder misdadigers deurgeloop het, moet sake by die polisie aanhangig maak.

Jacques Grobbelaar, uitvoerende hoof van die stadionbestuur, het ook sy spyt uitgespreek oor die beweerde misdaadvoorvalle, maar sê sy maatskappy het geen outoriteit gehad oor die veiligheidsreëlings rakende die geleentheid nie aangesien dit deur die SAPD hanteer is.

Intussen het David Makhura, premier van Gauteng, gesê hy is ontsteld deur die bewerings en het wetstoepassingsowerhede versoek om ʼn volledige verslag oor die geleentheid aan hom voor te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Huh? ·

Die mooi Afrikaanse woord is “verkeersknoop”. Ook korter en val lekkerder op die tong as “verkeersopeenhoping”?

Colleen ·

Mooi so. Nou kan die gaste wat kom deel het in SA se “vreugde” die “gasvryheid” eerstehands ervaar. Viva SA.

JAJA ·

Se nou maar wat jy wil , dit was chaos ,en dit gaan nou n gereelde ding by FNB wees , ek was by Guns en roses en dit was die laaste , naas die veiligheid is Big Concerts belaglik , 50 rand vir n blikkie bier , 50 rand vir n 3 dae oue rolletjie met n droe stuk wors op. Nee wat hou ma julle FNB events

Gums & Roses ·

Dit is julle REENBOOGLAND, dit is glad nie fopnuus nie maar iets wat die hoofstroom media probeer wegsteek sodat almal kan dink dat die rowers en die opgevoede mense heerlik saam konsert hou en lag en gesels en saam drink en eet en vrolik wees …

Ilze ·

Stem saam met jou JAJA. Was ook daar. Belaglik is nog sagkens gestel

Thelma ·

Ek wonder steeds of die wors op daardie brood enigsins vleis ingehad het, soja beslis en dalk hond………dit was ongelooflik sleg. Ek stem R50 ‘n bier en dan was die klank so pateties…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.