Sewe vas oor Stellenbosch-rooftog

Foto verskaf deur SAPD Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse blitspatrollie het Vrydagoggend vinnig reageer ná ʼn sakerooftog in Stellenbosch. Die gewapende verdagtes het in ʼn voertuig met kontant en gesteelde eiendom van die toneel gevlug.

“Beamptes van die blitspatrollie het die sewe verdagtes in ʼn plakkershuis in Mfuleni opgespoor en hulle in hegtenis geneem,” het brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, gesê.

Volgens berigte het verskeie verdagtes, van wie sommige in polisieuniforms geklee was, omstreeks 08:45 ʼn supermark in Birdstraat betree. “Hulle het hulself voorgedoen as beamptes wat die onderneming vir dwelmmiddels wou deursoek. Die eienaar was egter agterdogtig en toe hy antwoorde geëis het, het die verdagtes die eienaars aangerand, die personeel gedreig en bokse sigarette en sowat R90 000 kontant gebuit.”

Die verdagtes het teen ʼn hoë spoed in die rigting van Mfuleni weggejaag. “Beamptes het reageer en na die voertuig begin soek. Binne ʼn paar uur het hulle die sewe verdagtes aangekeer. Hulle het beslag gelê op kontant, bokse sigarette en drie vuurwapens, waarvan een vermoedelik in 2018 in Claremont gesteel is.”

Die verdagtes, tussen 30 en 59 jaar oud, sal Maandag in die hof verskyn op aanklag van sakeroof, onwettige besit van vuurwapens, gesteelde eiendom en dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die span geloof vir hul vinnige reaksie. “As hierdie misdadigers nie aangekeer is nie, sou hulle nog misdade gepleeg het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LANA is ELANè ·

Ek wonder altyd nou wie is die hoofvoorsiener van SAPD uniforms aan hierdie misdadigers, en wat is hul vergoeding daarvoor, dalk deel hulle die buit wat hulle in hul rooftogte buitmaak met die polisiemanne wat hul so vrygewiglik van wapens, ammunisie en uniforms voorsien?

Petrus ·

Was hulle net maar geklee in polisie klere of was hulle polisie beamptes. WONDER MAAR NET

Adri ·

Dit is goed dat die polisie vinnig GEreageer het. Dit werk elke keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.