Sewe vas vir amptenaar se skietdood

Babita Deokaran.

Sewe verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die onlangse moord op Babita Deokaran, ’n senior finansiële beampte van die Gautengse gesondheidsdepartement.

Die inhegtenisnemings volg nadat die polisie se span ondersoekers inligting ontvang het wat deurslaggewend in die saak was.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade in Gauteng het in samewerking met ander rolspelers klopjagte by die verdagtes se skuilplekke in Johannesburg uitgevoer, nadat die waardevolle inligting ontvang is.

Daar is tydens die inhegtenisnemings op twee vuurwapens en twee voertuie beslag gelê.

Die dossier is nou oorgeplaas na die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) vir verdere ondersoek.

Deokaran (53) is Maandag kort na 08:00 buite haar huis in Mondeor in die suide van Johannesburg doodgeskiet nadat sy haar kind by die skool afgelaai het.

Maroela Media het vroeër berig Deokaran was ten tyde van haar moord ’n getuie in ’n ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting in die departement.

Muridili sê die verdagtes sal binnekort in die hof op aanklag van moord verskyn. Die moontlikheid bestaan dat nog aanklagte by die voorlopige klag gevoeg kan word wanneer die verdagtes in die hof verskyn.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het intussen die inhegtenisnemings verwelkom.

Die DA het intussen ‘n beroep op die polisie gedoen om spoedig vas te stel of Deokaran se skietdood ’n sluipmoord was. Die spesiale ondersoekeenheid het egter vroeër gesê die moord kan nie in dié stadium met die bedrogondersoek verbind word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Tipies ANC wat 7 mense nodig het om een ou se werk te doen.

Etienne ·

Die ANC sal seker maak dat hierdie beplande sluipmoord afgemaak gaan word as net ‘n toevallige moord en niks met die bedrog saak te doen het nie… you just watch!

Casper ·

Ekskuus tog.Toe hierdie bedrog gepleeg is wie was die mannetjie wat bedank het en wat ook geïmpliseer word en ander bekendes wat ook gescore het.Ek het ‘n voëltjie hoor fluit daar is ‘n cruiser ook betrokke.

Magda G ·

Dis so onnodig. Daar is verseker meer mense betrokke by die skietery. Wie het met voirstel gekom. Patetiese huigelasrs

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.