Sewe vas vir moord op polisieman

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Sewe mans is onderskeidelik in Pretoria en Katlehong in hegtenis geneem vir die onlangse moord op ʼn polisiebeampte van Hartbeesfontein in Noordwes.

Maroela Media het vroeër berig die 32-jarige konstabel van die Hartbeesfontein-polisie is Woensdag in die vroeë oggendure doodgeskiet terwyl hy aan diens was. Die beampte, Baliki Mogapi, en sy kollegas het gereageer op die alarm van ʼn bank in Hartbeesfontein, noordwes van Klerksdorp.

ʼn Groep van agt gewapende mans was besig om die kitsbank by die bank oop te breek toe die polisie by die toneel opgedaag het. Die verdagtes het op die beamptes losgebrand en Mogapi noodlottig gewond. Mogapi se kollega het teruggeskiet, waarna die rowers in ʼn gekaapte veiligheidswa op die vlug geslaan het.

Die Valke en provinsiale taktiesereaksie-eenheid het ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur en sewe verdagtes in hegtenis geneem.

“Die lede het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op twee pistole en twee voertuie. Die soektog na die agtste verdagte duur voort,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê.

Die verdagtes, tussen 33 en 47 jaar oud, verskyn na verwagting Maandag in die Klerksdorp-landdroshof op aanklagte van moord, poging tot moord, sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KarooKlong ·

Goed gedoen Valke en Provinsiale Taktiesereaksie-eenheid en gesien in die lig van julle sukses verhaal, Is dit dalk moontlik dat julle betrek kan word by ondersoeke van plaasmoorde?

Liewe heksie ·

Hoekom kan dit vir n polisieman gedoen word maar nie vir n Boer wat kos op almal se tafels sit nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.