Sewe vas vir vlaag motorfietsdiefstalle in Pretoria

Argieffoto (Foto: AlexVan, Pixabay)

Die Pretoriase polisie het sewe verdagtes in hegtenis geneem in verband met ʼn vlaag motorfietsdiefstalle die afgelope tyd.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans, tussen 25 en 35 jaar oud, is Dinsdag in die vroeë oggendure in Rooihuiskraal in Centurion in hegtenis geneem.

“Die mans se modus operandi was om na bewering in ʼn wit Quantum in die Rooihuiskraal-omgewing rond te ry op soek na motorfietse wat binne of buite persele parkeer is,” het Huma gesê.

“Nadat hulle ʼn spesifieke huis identifiseer het, sou hulle later in die aand terugkeer, die honde vergiftig om toegang te verkry en dan die motorfiets steel.”

Huma het gesê die polisie in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum en plaaslike veiligheidsmaatskappye het ʼn gesamentlike intelligensie-gedrewe operasie geloods en die Quantum Dinsdag omstreeks 01:30 opgemerk.

“Die polisie het die voertuig voorgekeer en die sewe verdagtes is in hegtenis geneem. Toerusting om by huise in te breek en klapmusse is in hul besit gevind en beslag is daarop gelê.”

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van die besit van huisbraak-toerusting. Die Wierdabrug-polisie ondersoek die moontlikheid of die verdagtes met ander voorvalle in die gebied verbind kan word.

Die polisie het inwoners gewaarsku om nie waardevolle besittings oop en bloot te laat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

At ·

Baie bly om dit te hoor. Nou moet hulle net op gesluit word vir ‘n lang tydperk

A ·

Ek wens ons kon al die skelms na ‘n eiland toe stuur sodat hulle nooit ooit weer terug kan kom nie.

Baie dankie vir die GPF en Polisie se werk.

Cherokee ·

Dit was toeka se jare gelede gedoen – ‘n eilandtronk. Die Engelse het hul gevangenis 13000 kilos oor die water gestuur na ‘n tronk. Meer het die Engelse se voorbeeld gevolg. Die naam is nou verander en heet Australië.

Lientjie ·

Mooi so ! Moet asb nie waardevolle besittings oop en bloot laat nie so parker asb jou motorfiets in die huis of bo-op jou kar in die huis.

Rianie Castelyn ·

Mooi so!! Dis goeie nuus! Maar wat van die diere wat vergiftig is? Hul moet ook vir dieremishandeling aangekla word!!!

Ruan ·

Daai einste Quantum het my BMW motorfiets ook gesteel. Wonder of hulle enige motorfietse terug gekry het???

marous ·

Die polisie moet mense waarsku om nie besittings te steel wat oop en bloot gelaat word nie.
Hulle moet ook hul lede waarsku om nie slagoffers wat optree en hul werk vir hulle doen voor die voet te arresteer nie.

Mariska ·

Hoe kan ons uitvind of daar gesteelde fietse gevind is? Ons 2 motorfietse in in Mei gesteel.

Drie Beertjies ·

Dieselfde Quantum het ook my BMW R1200 agter ‘n geslote hek wat hulle oopgebreek het vir hulle self “geneem” in Des 2016 in Montana. Plaas asb die ondersoekbeamptes se besonderhede sodat ons kan opvolg.

Fanie van Heerden ·

My kleinseun se motorfierts is ook in Rooihuiskraal gesteel.

Anoniem ·

Ons honde is daardie aand in Rooihuiskraal vergiftig. Ons het geen waardevolle items wat oop en bloot staan nie. Ons honde is vir NIKS vermoor nie. Hierdié sewe behoort die doodstraf te kry. Ons honde is familielede. Ek is bly die sewe is gevang, but now they need to pay the ultimate price

anoniem ·

Ons in Krugersdorp, ons 2 motorfietse ook 16de Desember gesteel nadat hekke oopgebreek is. Dink dit was bietjie warm in Krugersdorp toe peil hulle nou Pretoria. is dit miskien ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.