Sewe verdrink afgelope week in Vrystaat

(Foto: SA Polisie)

Sewe mense het die afgelope week in die Vrystaat verdrink terwyl stormweer die afgelope paar dae oor groot dele van die land heers.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die slagoffers het óf in riviere óf in oorstroomde gebiede verdrink.

Die jongste slagoffers is onderskeidelik 13 en 17 jaar oud en behoort vermoedelik aan dieselfde gesin. Volgens Makhele het die twee kinders saam met twee volwassenes verdrink toe hulle deur ʼn oorstroomde pad naby Rosendal probeer ry het.

“Die polisie het die liggame van ʼn kind (17) en twee mans in die water gevind, maar die liggaam van die 13-jarige kind word steeds gesoek.”

In ʼn afsonderlike voorval het ʼn man verdrink nadat hy saam met sy vrou en familie drankies by ʼn plaas in die Oranjeville-omgewing geniet het.

Makhele sê die man se vrou het besef hy het verdwyn en het na hom gaan soek toe sy hom in ʼn rivier gesien het.

“Die vrou het hom sien roep vir hulp en sy het dadelik haar man se broers en familielede geroep. Nog voor hulle iets kon doen, het die man onder die water verdwyn.”

Die polisie is na die toneel ontbied en die man se liggaam is uit die rivier gehaal.

In nog ʼn voorval het ʼn 41-jarige man in die Senekal-omgewing verdrink toe hy ʼn rivier wou oorsteek. Sy liggaam is eers op Kersdag gevind.

Die polisie het ook die liggaam van ʼn vermiste 34-jarige man in ʼn rivier in Botshabelo gevind. Hy is dae vantevore as vermis aangemeld.

Makhele sê in die laaste voorval is ʼn 21-jarige pastoor en ʼn 41-jarige vrou deur ʼn rivierstroom meegesleur nadat die pastoor die vrou wou doop.

“Die pastoor het lede van sy kerk na ʼn rivier naby Kroonstad geneem vir ʼn doop,” sê hy.

“Tydens die doop het die pastoor en die vrou skielik in die water verdwyn.”

Hulle liggame is etlike kilometer verder deur duikers gevind.

Die vlaag verdrinkings volg kort nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) verskeie weerwaarskuwings vir groot dele van die land uitgereik het.

Die polisie het intussen ʼn beroep op mense gedoen om riviere of sterk strome heeltemal te vermy.

“Moenie die gevaar loop om die water oor te steek nie,” sê Makhele.

“Ons raai ook kerke aan om enige bedrywighede wat die gebruik van riviere en damme behels, op te skort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.