Sewejarige sterf in skietongeluk

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

ʼn Sewejarige kind is dood nadat ʼn 11-jarige familielid hom die afgelope naweek glo per abuis geskiet het.

Volgens die polisie het drie nefies, almal minderjarig, Sondag saam by hul huis in Siqikini, naby Libode in die Oos-Kaap, gespeel toe hulle ʼn vuurwapen onder die bed gevind het.

“Terwyl die 11-jarige seun met die vuurwapen, ʼn 9 mm-pistool, gepeuter het, het ʼn skoot afgegaan en die sewejarige Kwanele Zide in die kop getref,” sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Die vuurwapen behoort glo aan die seuntjie se oupa, maar eienaarskap moet nog bevestig word. ʼn 49-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie en verskyn na verwagting binnekort in die Libode-landdroshof.

ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak.

Volgens Naidu is die 11-jarige kind nie in hegtenis geneem nie.

Genl.maj. Zithulele Moses Dladla het sy skok oor die voorval uitgespreek en sy medelye met die Zide-familie betuig.

Hy het die beweerde nalatigheid wat vermoedelik tot die skietvoorval gelei het veroordeel en benadruk dat mense daagliks met vuurwapens doodgemaak word.

“Dit is des te meer hartseer wanneer families weens ʼn vuurwapen – en dikwels ʼn onwettige wapen – rou oor die dood van hul kinders weens ongelukkige voorvalle soos hierdie wat ʼn familie se lewe vir altyd verander,” sê Dladla.

Hy het ʼn beroep op mense gedoen om saam met die polisie te werk om die verspreiding van onwettige vuurwapens te stuit.

“Deur dit doen beskerm ons ons kinders en gemeenskappe, en mense word nie in rou gedompel omdat onwettige vuurwapens in omloop is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Die publiek moet help om die verspreiding van onwettige vuurwapens te stuit ?

anniekiewiet ·

Kan die ‘slim ‘genl majoor’ dladla sommer ook sê hoe ons kan help? Ons mag dan niks sê of doen nie, dan word ons afgejak.

Harley Davidson ·

Want hulle doen nie te besig om wettige vuurwapen eienaars se lewe moeilik te maak.

Swerwer ·

Eienaardig. Diè wat oor wettige vuurwapenslisensie beskik, beskik oor ‘n kluis wat vooraf geinspekteer is deur die SAP en beskik oor die nodige berging en hantering kennis van vuurwapens en weet dit mag nie rondlê en onder ‘n bed weg gesteek word nie.

Cherokee ·

Eienaardig dat jy dit as eienaardig bestempel, terwyl die berig meld dat dit ‘n onwettige wapen is.

anniekiewiet ·

Mag daardie ouers en familie troos vind na so vreeslik hartseer ongeluk.

ES ·

Die kind is jonger as 14 so hy het nie kriminele kapasiteit nie. Maar dit bly uiters tragies.

Skappie ·

Sterkte aan die kind se gesin. Dit is nou regtig jammer dat hy op so ‘n manier moet sterf.

Casper ·

Hierdie seun is ouer as 10 en toerekeningsvatbaar en kan verhoor word as minderjarige.Die persoon wie se vuurwapen dit is is net so skuldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.