Sewende verdagte in hof vir moord op tienerseun

Jordan Moore (Foto: ANA)

Die sewende verdagte wat betrek word by die gru-moord op die 16-jarige Jordan Moore, het Donderdag in die Atlantis-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn.

Die 22-jarige man het vlugtig in die hof verskyn en is van moord aangekla.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die beskuldigde nie om borgtog gaan aansoek doen nie.

Talle inwoners van Atlantis het tydens die verdagte se verskyning voor die hof bymekaargekom en geregtigheid vir Moore geëis. Hulle het ook versoek dat die beskuldigde borgtog geweier word.

Vier verdagtes het Dinsdag in die hof verskyn en is van die moord op Moore aangekla. Die vier sal na verwagting op 24 November om borgtog aansoek doen.

Twee verdagtes, 18 en 24 jaar oud, het reeds verlede week in die hof verskyn in verband met die moord. Hulle het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie en hul saak is tot 22 Januarie uitgestel.

Moore en twee van sy vriende is deur ’n groep mans genader wat hulle glo wou dwing om drank by ’n plaaslike sjebien vir hulle te gaan koop. Twee van die tieners kon daarin slaag om te vlug en hulp te gaan soek, maar Moore kon nie wegkom nie.

Moore is toe glo ontvoer. Hy is verskeie kere met ’n mes gesteek en daarna glo deur die mans wat hom ontvoer het se honde verskeur. Sy liggaam is later die aand gevind.

Moore se begrafnis vind Saterdag in Atlantis plaas waarna ’n privaat verassingseremonie gehou sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SwartBees ·

Hoe vat dit sewe boos doeners om een seun te vermoor?!!?! Siek verby! RIV seun, jy is verlos van die bose wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.