Sewende verdagte vas vir aftreeoordmoorde

Die Stella Londt-aftreeoord in Port Elizabeth. (Foto: Facebook)

’n Sewende verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Langton (87) in die Stella Londt-aftreeoord in Port Elizabeth in Oktober verlede jaar.

Akhona Mnxeba (28) het Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die voorval, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

Mnxeba is Donderdag saam met sewe ander verdagtes in hegtenis geneem in verband met ʼn huisrooftog in Summerstrand. ʼn Skootrekenaar, selfoon, kontant, klere en ander items is tydens die rooftog gesteel. Mnxeba is deur die polisie gesoek in verband met die aftreeoordmoorde.

Maroela Media het vroeër berig personeellede van die Stella Londt-aftreeoord het die twee vroue op 10 Oktober omstreeks 05:45 dood aangetref in hul onderskeie kamers. Die verdagtes het na bewering vroegoggend op 10 Oktober die perseel betree deur ʼn deur op die boonste vlak van die hoofgebou in die aftreeoord.

Die deur was nie gesluit nie. Hulle het die eerste kamer betree waar hulle Burns oorval het. Sy is later op haar bed aangetref. Haar voete en hande was vasgebind en haar mond was toegestop. Haar kamer was geplunder. Langton se liggaam is in soortgelyke omstandighede gekry. Die nadoodse ondersoek het gewys dat Burns en Langton versmoor het. Daar was ook aanduidings dat hulle gewurg is.

Die polisie glo roof was die motief vir die moord. Krugerrande, luukse horlosies, goue ringe en ʼn trouring met ʼn edelsteen asook ander juwele en ʼn selfoon is gebuit.

Vyf verdagtes is dieselfde maand nog in hegtenis geneem in verband met die moorde waarvan een van die verdagtes, ʼn 34-jarige vrou, ʼn versorger by die aftreeoord was. Sy was aan diens tydens die moorde.

Panganai Mike Mabwe (27) het in November skuldig gepleit op aanklagte van geldwassery en is gevonnis tot ʼn boete van R 5000 of 12 maande tronkstraf. Hy is verder tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar opgeskort is. Craig Nyasha Madiro (20) het ook skuldig gepleit op geldwassery en is tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar opgeskort is. Dié twee beskuldigdes was in besit van die gesteelde selfone.

Nombebisi Slangveld (34), Mkhuseli Damaneti (30), Nyasha Manyange (33) en Luxolo Kruisjan (31) bly in aanhouding. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord, twee aanklagte van huisroof,twee aanklagte van ontvoering en twee aanklagte van sameswering om roof te pleeg.

Mnxeba is ook van moord, huisroof, ontvoering en aanklagte van sameswering om roof te pleeg aangekla. Hy sal weer op 18 Maart saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Volgens Naidu is Mnxeba die laaste verdagte wat gesoek is in verband met die moorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daniel Pieter Schoeman ·

Wys jou net hul is bang aleen twee ou dames nie n kans nie, en 7 van hulle

Pieter ·

3 jaar tronkstraf waarvan 3 jaar opgeskort is Kan dit nie glo nie ons regstelsel is n grap

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.