Sexwale sê politici moet uit afgelope week leer

Tokyo Sexwale Foto: Werner Beukes/SAPA

Tokyo Sexwale Foto: Werner Beukes/SAPA

Die miljardêr en voormalige minister, Tokyo Sexwale, het Dinsdag by talle ander politieke hoës aangesluit deur sy mening uit te spreek oor die opspraakwekkende gebeure die afgelope week toe president Jacob Zuma die minister van finansies twee keer in vier dae vervang het.

Sexwale het op BBC se program, Hardtalk, gesê politici moet uit die afgelope week leer om nie met die finansiële markte te speel nie. “Ons is stomgeslaan hier – binne vier dae het jy drie ministers van finansies. Dit is doodgewoon nie aanvaarbaar nie en ek kan sien die president het teruggekrabbel om homself te korrigeer,” het Sexwale, wat in 2013 deur Zuma afgedank is nadat hy hom tot die leierskap van die ANC uitgedaag het, gesê.

“Die minister van finansies posisie is ʼn baie sensitiewe pos. Ek behoort te weet, aangesien ek in daardie markte sake gedoen het. Dit is nie goed vir ons beeld nie, maar ek hoop dit sal alles agter ons wees wanneer minister Pravin Gordhan – in wie ek baie vertroue het – die leisels oorneem. Ek kan klaar sien die rand het weer verbeter, want ons probeer die fout wat ons verlede week gemaak het, regmaak.”

Toe Zeinab Badawi, die aanbieder, hom vra of die tuimeling van die rand ná Nhlanhla Nene se afdanking ʼn teken is dat Zuma se mag besig is om deur sy vingers te glip, het Sexwale nie die vraag direk beantwoord nie. “As ek my stuiwer in die armbeurs moet gooi, sal ek sê politici moet weet voordat hulle besluite neem wat die gevolge van daardie besluite gaan wees, veral met betrekking tot die finansiële markte. As jy ʼn swak besluit neem en dit slaan die land, val jy van jou stoel af, skuld styg, inflasie styf, ensomeer. Ek hoop ons het nou hieruit geleer,” het hy gesê.

Die ANC het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie Zuma geloof vir sy “dapperheid” om na voorleggings te luister en sy besluit oor David van Rooyen se aanstelling om te keer. Jessie Duarte, adjunkhoofsekretaris van die ANC, het gesê dit is ʼn bewys dat die ANC ʼn “luister-organisasie” is, wat nie bang is om ʼn besluit om te keer indien dit in die beste belang van die land sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

willem ·

n “Luister-organisasie”, wat ‘n grap. Hulle luister net wanneer hulle voel, wannner die houe op hulle sitvlakke val. Net soos hulle geluister het en ingegee het met die “studente” protes. Ek is seker die wat revolusie soek het mooi opgelet hoe en wanneer die ANC luister.

arie plaasboer ·

@ Willem,
Die persoon wat jy hier aanhaal is duiedelik Jesse Duarte.
Sy en Z is twee van enderse vere. Mens hoef nie ver te dink om te glo dat as hulle hul monde oopmaak om iets te se dit `n leuen gaan wees nie,
Die afgelope week dui dit alweer net so sterk uit.

Johann Marx ·

Dis altyd makliker om om verskoning te vra, as toestemming.

GPC ·

Luister?…… Hulle ore is bot toe tov Nkandla, Etol, Eskom om net n paar te noem. Die man se posisie was bedreig, dis hoekom hy ingegee het. En nee dit was nie #ZUMAMUSTFALL nie, hy vee sy alie aan media af, dit was mense naby hom wat hom oortuig/konfronteer het dat sy dae getel is.

Kobus van den Berg ·

RSA word Banana Republiek olv die ANC regering. Taar maar waar. Baie hartseer.

Kobus van den Berg ·

RSA word Banana Republiek olv die ANC regering. Raar maar waar. Baie hartseer.

Avril Schutte ·

Koos ek stem nie met jou saam oor jou stelling ivm Tokyo nie. Hy het sy geld gemaak op n harde manier, hy het besigheids beginsels, en dis meer wat ons van die res van die korupte ANC kan se.

Kobus ·

Zuma het sy “sell by date” bereik. Hy word egter daar gehou deur die kaders wat hy aangestel het om laer te trek om hom soos Duarte. Hy het geen benul van regeer nie, maar weet hoe om die massas aan hulle neuse te lei om te glo wat hy belowe. Baie bly om te sien dat die optogte oor #zumamustfall deur alle bevolkingsgroepe bygewoon is en dat die ANC nie weer kan sê dis rassisties gedrewe nie. Hoop ANC “luister” en raak ontslae van hom.

EMK ·

Weet net nie hoe word mens so vinnig ‘n miljardêr nie. Ek weet regtige ryk ouens (Rupert ens) het jarelank HARD gewerk voordat hul net miljoenêrs geword het. Nou niks met berig uit te waai maar ja… maak my siek as ek lees daar word verwys na hom as miljardêr. En as mens nog kan sien/hoor hy gee regtig baie van sy geld ook vir welsyn, maar nee wat, die gewone ouens wat maar eintlik net -net uitkom elke maand is die wat betrokke raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.