Shabangu eis verskoning oor ‘leuenaar’-berig

Susan Shabangu

Susan Shabangu

Susan Shabangu, minister in die presidensie belas met vrouekwessies, eis ‘n verskoning van die nuuskanaal eNCA nadat hulle berig het dat sy adjunkpresident Cyril Ramaphosa ‘n leuenaar genoem het.

“Minister Shabangu ontken dat sy adjunkpresident Cyril Ramaphosa ‘n leuenaar genoem het, soos berig deur eNCA,” het haar departement in ‘n verklaring gesê.

Shabangu, voormalige minister van minerale hulpbronne, het Dinsdag by die Farlam-kommissie van ondersoek getuig. Die kommissie is op die been gebring om ondersoek in te stel na die dood van 34 mynwerkers by Marikana in Augustus 2012.

Shabangu is gevra om te getuig oor ‘n gesprek wat sy met Ramaphosa gehad het op 15 Augustus 2012. Dit was ‘n dag voor die 34 mynwerkers doodgeskiet is.

Ben Said, eNCA se groepnuusredakteur, het aan Sapa gesê dat Shabangu vir hulle moet sê waar en wanneer dit berig is en dat hulle dan sal ondersoek instel.

Die kommissie het tydens Shabangu se getuienis gehoor dat sy ‘n vergadering gereël het met Ramaphosa vir 15 Augustus 2012.

Kameshni Pillay, getuienisleier van die kommissie, het ‘n e-pos wat Ramaphosa aan beamptes by Lonmin gestuur het, aan die kommissie voorgelees.

“Sy [Shabangu] stem saam dat dit wat aan die gebeur is, nie ‘n arbeidsdispuut is nie maar ‘n kriminele daad is.” Ramaphosa het destyds belange in Lonmin gehad.

eNCA het Dinsdagaand ‘n berig op sy webtuiste gelaai getiteld: “Shabangu noem Rampahosa ‘n leuenaar”.

Volgens die berig het Shabangu ontken dat sy saamgestem het met die uitlating dat die staking by Marikana ‘n kriminele daad en nie ‘n arbeidsdispuut was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

ennaburger ·

NEE WAT VAN HIER AF MET ‘N SELFOON EN EMAIL IS DIT ‘N ROYEL F……. GEEN SEIN VIR EMAIL, SO NIKS WERK REG VIR ONS AS JY SUKKEL

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.