‘Shaik gesond genoeg om iemand aan te rand’

Schabir Shaik Foto: Werner Beukes/SAPA

Schabir Shaik Foto: Werner Beukes/SAPA

Die raad op korrektiewe toesig en paroolhersiening is versoek om die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik se borgtogvoorwardes te heroorweeg ná hy glo Woensdag ʼn joernalis gevloek het.

James Selfe, die DA se skaduminister van korrektiewe dienste, het in ʼn verklaring gesê hy het die voorsitter van die raad, Regter Sirah Desai, gevra om Shaik se borgtogvoorwaardes te hersien.

Shaik, ’n voormalige raadgewer van pres. Jacob Zuma, is in 2005 tot ʼn effektiewe 15 jaar tronkstraf gevonnis vir korrupsie en bedrog. Shaik is in Junie 2009 op mediese parool vrygelaat. Sy borgtogvoorwaardes is verlede week verslap omdat hy glo goeie gedrag en vordering met sy rehabilitasie getoon het.

Selfe het gesê Shaik se optrede teenoor die joernalis is nie die gedrag van ʼn man wat ten volle gerehabiliteer is en gereed is om weer met die gemeenskap geïntegreer te word nie. “Inteendeel, dit wil voorkom asof hy ʼn probleem met woedebeheer het,” het hy gesê.

Dit het Donderdag aan die lig gekom dat Shaik ʼn joernalis verbaal aangeval het toe die joernalis hom vir kommentaar oor die verslapping van sy borgtogvoorwaardes uitgevra het. “Hy het gereageer deur vloekwoorde na die joernalis te slinger en hom verbaal te dreig. Volgens berigte het Mnr Shaik ook gesê sy gesondheid het aansienlik verbeter, tot so mate dat hy die joernalis met die kop sal slaan en hom in sy geslagsdele sal skop,” het Selfe gesê.

Shaik het glo tydens die gesprek in Engels aan die joernalis gesê, “Ek sal jou breek wit laaitie!”

Volgens Selfe is Shaik vrygelaat omdat hy in die finale stadium van ʼn terminale siekte was, maar dit blyk nie meer die geval te wees nie. “Hy het self erken en in hierdie gesprek dit onomwonde gestel dat sy gesondheid genoeg verbeter het sodat hy iemand kan aanrand.

Die besluit om hom destyds op mediese parool vry te laat was reeds ʼn omstrede besluit en daar was baie spekulasie dat Mnr. Shaik nie werklik terminaal siek was nie. Ons het vermoed Shaik kan nie vir mediese parool in aanmerking kom nie, maar hy het voorkeurbehandeling ontvang omdat hy noue bande met die president het.”

Selfe het gesê hy het daarom ʼn beroep op regter Desai gedoen om Shaik se borgtog te heroorweeg en ʼn nuwe bevel daaroor te lewer.

“In die belang daarvan dat regverdigheid ʼn noodsaaklike komponent van Suid-Afrika se regsisteem moet wees, is ons van mening dat dit van kardinale belang is dat Regter Desai ons versoek met die nodige erns oorweeg, sodat ons die gelykheid van alle Suid-Afrikaners voor die gereg kan herstel, ongeag hul politieke bande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pops ·

Tjoekie toe vir jou bedrieer Shaik. Jy is lankaaaaaal nie meer terminaal siek nie. Jy loop en praat nog heel goed soos ek kan agterkom!!!!

Nic de Bruyn ·

Stuur die pateet Pretoria toe. Hier sal ons hom wys wat ons van hom dink.

Winston ·

Hy is bevoordeel omdat hy nie wit is nie en bande met sekere invloedrykes het. Hy hoort agter tralies die bedriër! Sit hom waart hy hoort. Hy is siek, maar dis in sy kop.

Gerhard Bezuidenhout ·

Laat hy die woorde teenoor my herhaal en ek trap sy rug af.

Marius ·

Ek hoop die wereld kom net so ophoogte met “apart behandeling” as wat hulle met apartheid gekom het. Wonder of hulle ons daarmee ook so flink sal help?

George ·

Mediese wonder!!! Slim (slu) se baas gaan homself nog vang. Gee die man net genoeg tou, hy gaan homself nog hang.

tina ·

Ja, werklik..dan die dokters wat hom dan kwansuis terminaal gediagnoseer het -en dat hy in die laaste fase was – se kwalifikasies moet ondersoek word en ook aangekla word vir onetiese gedrag. Daar is absoluut niks verkeerd met ons intelligensie. Dit walg my net om na hulle te kyk op die nuuskanale want wat ookal uit hulle monde kom is leuens..

Berhalet Beukes ·

Zuma boet… Bedrieër… Leuenaar, skelm! Stuur hom C Max toe, hy sal gou leer wat gereg is in die tronk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.