‘Shaik se paroolaansoek moet afgekeur word’

Schabir Shaik Foto: Werner Beukes/SAPA

Schabir Shaik Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Vryheidsfront Plus en die DA het die minister van justisie en korrektiewe dienste versoek om die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik se aansoek om gewone parool af te keur. Maroela Media het Vrydag onthul dat Shaik aansoek gedoen het om sy mediese parool na gewone parool om te skakel.

“Shaik se aansoek om sy mediese parool om te skakel in gewone parool, is bewys dat sy mediese parool ʼn klug was,” het Pieter Groenewald, woordvoerder vir die VF Plus, gesê. “Vir mediese parool moes hy terminaal siek gewees het, en indien hy nou genees is, moet omvattende inligting beskikbaar gestel word watter mediese behandeling hy ontvang het.”

Groenewald het gesê dit is in teenstelling met Clive Derby-Lewis wat werklik siek is en aan kanker ly, maar nie mediese parool ontvang nie. “Hierdie aansoek van Shaik moet afgekeur word, anders sal dit net nog ʼn skandvlek op korrektiewe dienste se naam wees en mediese parool ʼn klug maak.”

James Selfe, DA-woordvoerder oor korrektiewe dienste, het ook gesê minister Michael Masutha moet die aansoek afkeur, aangesien Shaik implisiet daarmee erken dat hy nie terminaal siek is nie. “Ons het destyds al vermoed dat Shaik nie vir mediese parool in aanmerking gekom het nie, maar dat hy voorkeurbehandeling ontvang het weens sy bande met die president,” het Selfe gesê.

Selfe het ʼn beroep gedoen op Masutha om onmiddellik te ontken dat Shaik se aansoek goedgekeur sal word. “Indien die minister Shaik se aansoek goedkeur, sal die DA dit ernstig oorweeg om die besluit op hersiening te neem. Schabir Shaik het sy bed gemaak en hy moet daarin slaap.”

Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement, kon verlede week slegs aan Maroela Media bevestig dat die departement korrespondensie van Shaik se regsverteenwoordiger ontvang het, maar dat die inhoud daarvan nie in die stadium bekend gemaak kan word nie. “Volgens ons beleid kan ons nie gevangenes se persoonlike lewe of gesondheid in die media of enige ander openbare domein bespreek nie,” het Wolela gesê.

Shaik is in Maart 2009 op mediese parool vrygelaat nadat hy twee jaar en vier maande van sy vonnis uitgedien het. Hy is in 2005 skuldig bevind aan twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog. Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Shaik het in 2008 om presidensiële kwytskelding aansoek gedoen.

Lees ook:
Maroela onthul: Schabir Shaik wil parool wysig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Ons moet sy aansoek met alle mag beveg. Asseblief Afriforum verhoed dat die siel gewone parool kry . Hy en Zuma is gif.

jacques ·

Maar dan is hy mos nou gesond om terug te gaan tronk toe.Ongelooflik hoe hy dit in die eerste plek kon regkry om tronk vry te spring.

Paul ·

!00% korrek, sy skelm maatjie moet net saam gaan sit, dan gaan die land soveel beter doen.

Sollie ·

Hy ignoreer in elk geval sover die reg en uitsprake teen hom en doen wat hy wil. Hy is dan mos so “siek” die arme man! Mooi geleer by sy groot buddy Zuma.

Johan ·

Hierdie man was nog nooit siek nie. Geniet sy lewe voluit.As dit sou gebeur sal ou Zum seker verseker wees van van sy gedeelte as vergoeding.

Hendrik ·

Kan daar nie druk op die SA mediese raad uitgeoeffen word teen die geneeshere wat sy mediese parool aanbeveel het nie? Hulle behoort mos weens oneerlikheid permanent as geneeshere geskrap te word?

Johanna ·

Het iemand al opgemerk hoeveel gewig hy aangesit het? Geen ernstige siek mens lyk so goed nie behalwe as hulle dalk kortisoon gebruik. Destyds het sy broer gesê hy moet mediese parool kry want hy is “dead man walking”. Het hierdie mense nie ‘n absolute arrogansie in die manier wat hulle samelewing met minagting hanteer nie?

Piet ·

Omdat hy ‘dodelik siek’ was is mediese parool aan hom toegestaan. Nou hy weer kerngesond is behoort hy opnuut opgesluit te word om die res van sy straf uit te dien. Sonder enige kanse om weer parool te kry in die toekoms nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.