Shaleen Surtie-Richards: ‘Ons gaan jou mis’

Shaleen Surtie-Richards. (Foto: B-You Photography Rina G Coetzee/Die SA Legendes-museum)

Die aktrise Shaleen Surtie-Richards se familie het Maandag ʼn verklaring uitgereik nadat dit aan die lig gekom het dat sy gesterf het.

Luidens die verklaring is die Johannesburgse aktrise Maandagoggend dood in ʼn gastehuis in Kaapstad aangetref. Sy het aan die Afrikaanse telenovela Arendsvlei gewerk. Sy was 66 jaar oud.

Alistair Izobell, kunstenaar en vervaardiger asook woordvoerder vir Surtie-Richards se familie, het gesê die “nasie word bedank” vir hulle medelye ná die geliefde aktrise se dood.

“Ons het ʼn suster, tante, niggie en kleinniggie verloor. Ons probeer die nuus van haar afsterwe verwerk en ons gebroke harte stilmaak. Ons verstaan dat sy nie nét in ons harte is nie, maar ook in die harte van hierdie wonderlike nasie.”

Surtie-Richards was bekend vir haar vertolking in die rol van Nenna in die destydse M-Net-sepie Egoli en Fiela Komoetie in die oorspronklike rolprentweergawe van Fiela se kind.

“Dit is algemene kennis dat sy aan diabetes en hartkwale gely het. Haar dood kan dalk hieraan toegeskryf word, maar die familie wag vir die nadoodse ondersoek om die oorsaak daarvan te bepaal. Daar is verskeie gerugte oor die oorsaak van haar dood en daarom wil ons benadruk dat Surtie-Richards nié haar eie lewe geneem het nie.”

Surtie-Richards se werk het verlede jaar deel geword van die Suid-Afrikaanse Legendes-museum. Sy het in haar loopbaan as aktrise meer as 40 gesogte toekennings ingeoes, waaronder die Fleur du Cap-toekenning vir haar rol in die teaterverwerking van Shirley Valentine.

Shaleen Surtie-Richards as Nenna in ‘Egoli’. (Foto: Facebook)

Talle huldeblyke vir Surtie-Richards het intussen op sosiale media ingestroom. Die akteur Anton Dekker het gesê die nuus van haar afsterwe het “die wind uit sy seile geslaan”.

“Dit is asof al die kleur skielik uit ons lewe is. Een van die grootste legendes is weg. Rus sag, liewe Shaleen Surtie-Richards. Nie net was jy ʼn unieke kunstenaar nie, maar ʼn absolute lewende legende en monument vir duisende.

“Persoonlik het ek jou altyd ervaar as ʼn wonderlike, liefdevolle mens, met sakke vol omgee vir almal om jou. Jou liefde en drukkies het my gedra deur baie moeilike tye in my lewe. Ons gaan jou verskriklik mis,” het Dekker geskryf.

Mandi du Plooy-Baard, die Getroud met rugby-aktrise wat destyds in Egoli in die rol van Lara te sien was teenoor Surtie-Richards se geliefde karakter Nenna, het ʼn foto van Surtie-Richards saam met haar en haar man, Schalk Baard, op hulle troudag gedeel.

“Oneindig baie liefde vir jou, Shalie … my hart pyn! Dit was die grootste voorreg om by jou te kon leer!” het sy geskryf.

Schalk Baard, Shaleen Surtie-Richards en Mandi du Plooy-Baard op hulle troudag in April 2008. (Foto: Facebook/Mandi du Plooy-Baard)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Magda G ·

Kan die mensdom nie net die nodige respek toon en nie net aannames maak nie.
Dis siek mense wat stories versprei.

Renee ·

RIV Jy was n’ superster dankie vir al die vermaak oor die jare

Reynier ·

Bye bye tannie Nena, jy was elke aand in ons sitkamer as kinders,

Louisepretorius ·

Ons gaan jou mis.jy was ongelooflik.jou plek is leeg.

popsa ·

Slaap soet, Fiela Komoeti. Jy bly in ons harte. Daar was maar een soos jy…

amapinki ·

Rus in vrede, Shaleen. Een van die beste SA aktrises.♥

Elmarie ·

Waaroor mense altyd wil stories opmaak en skinder gaan my verstand te bowe. Sy is dood en klaar wat maak dit aan enigeen saak om watter rede? Gaan dit iets verander. Hene tog…los al die nonsens en dink aan hoe jul geskinder haar familie raak. Sy was ‘n ikoon en huishoudelike naam en ek wens haar familie en vriende sterkte en vrede toe.

Duitser ·

Moet jou nie bekommer oor hoe sy dood is nie, maar kyk eerder hoe sy gelewe het. Sy het haar lewe voluit gelewe en ‘n nalatingskap agter gelaat waarin baie van ons kan volg.

Wat ‘n wonderlike mens was sy deur haar lewe, net goeie gedagtes van Nenna.

Rus sag…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.