Sharemax-skema: AfriForum plaas druk op NVG oor bewaringsbevel

the-villa-mall-sharemax-nova

Die The Villa Mall in die ooste van Pretoria wat na die probleme by Sharemax nooit klaar gebou is nie. Foto: Julius Cobbett/Citizen Alert ZA.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Woensdag in ’n brief aan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, versoek dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy besluit oor ’n bewaringsbevel van die Nova-eiendomsgroep heroorweeg. Die NVG het besluit om nié die Nova-eiendomsgroep – wat vir alle praktiese doeleindes ’n voortsetting van Sharemax is – se bates in bewaring te neem nie.

Luidens ’n verklaring van AfriForum voer dié organisasie aan dat hierdie bates met die opbrengs van ’n misdaad bekom is.

“Een van die regstreekse gevolge van die bewaringsbevel is dat niemand met die eiendom mag handel dryf totdat die hof ’n finale bevel gegee het dat dit verkoop of aan die regmatige eienaars teruggegee moet word nie,” lui die verklaring.

Adv. Rodney de Kock, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging, het AfriForum in kennis gestel dat die NVG nié aansoek gaan doen om ’n bewaringsbevel nie ten einde aandeelhouers teen verdere verliese te beskerm. Dit volg nadat AfriForum se privaat vervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel op 22 Junie vanjaar aangekondig het dat die eenheid hierdie bewaringsbevel opgestel en vir die batebeslagleggingseenheid van die NVG gestuur het.

Die NVG kan sekere eiendomme ingevolge ’n hofbevel in bewaring neem, maar die NVG het in hierdie geval nog geen sodanige aansoek ingedien nie.

In die aansoek voer AfriForum aan dat die eiendomme ter sprake bekom is met die opbrengs van onwettige aktiwiteite, waaronder geldwassery en bedrog soos vervat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, asook die Wet op Banke. Die eiendomme het bygedra tot die pleeg van misdade teen die aandeelhouers en die maatskappy Nova is sedert 2012 in beheer daarvan. Dié maatskappy is egter gestig met die opbrengs van onwettige deposito’s wat deur Sharemax van die publiek aanvaar is.

“Adv. De Kock se besluit om nie ’n aansoek vir die batebeskermingsbevel in te dien nie, moet dringend heroorweeg word. Boonop kan sy besluit ingevolge die feite en die wet as irrasioneel en strydig met die feite en wetgewing beskou word. Volgens ons interpretasie van die reg is Nova se bates bekom met die opbrengs van ’n misdaad. Dit beteken dat dit teenstrydig met die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) is, asook dat die NVG die nodige mag het om stappe te doen om die regte van beleggers te beskerm en boonop daartoe verplig is,” sê adv. Nel.

Volgens adv. Nel blyk dit dat die NVG nie erns maak met die saak nie, aangesien geen vervolging nog ingestel is nie.

“Die vertraging in die verkryging van ’n beskermingsbevel kan tot verdere nadeel van aandeelhouers lei deurdat die Nova-raad bates kan verkoop of versprei ten koste van aandeelhouers. AfriForum sal dus steeds druk op die NVG plaas om toe te sien dat geregtigheid geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie Smartie ·

Mens wonder maar oor Rodney de Kock se besluit …

Villie ·

Ek sal liewer nie name noem nie, maar een van die “Kingpins” woon nie te ver van my af nie. Terwyl ou mense krepeer van ellende leef hulle in absolute weelde met weelderige motors wat in die oprit staan en om nie te praat van die paar miljoen Rand se salarisse wat hulle jaarliks aan hulleself toeken nie. Van die eiendomme is verkoop maar die aanvanklike beleggers het nie ‘n sent darvan gesien nie. Gewetenloos verby!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.