Sharemax-skema: Bewaringsbevel vir Nova-eiendomme versoek

the-villa-mall-sharemax-nova

Die The Villa Mall in die ooste van Pretoria wat na die probleme by Sharemax nooit klaar gebou is nie. Foto: Julius Cobbett/Citizen Alert ZA.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se private vervolgingseenheid het ’n bewaringsbevel opgestel om te verhoed dat die Nova-eiendomsgroep, ’n voortsetting van die eiendomsindikasiemaatskappy Sharemax, dié maatskappy se eiendomme teen pryse ver onder die markwaarde daarvan verkoop.

AfriForum het Maandag tydens ʼn mediakonferensie gesê die bewaringsbevel is reeds aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur. Hierin eis AfriForum dat die NVG die saak voor ’n hof bring.

Sou die bevel toegestaan word, sal die NVG se batebeslagleggingseenheid hierdie eiendomme ingevolge ’n hofbevel in bewaring kan neem. Die NVG het egter nog geen sodanige aansoek gebring nie.

Maroela Media het vroeër berig Sharemax is destyds daarvan beskuldig dat hy ʼn piramideskema bedryf het, nadat meer as 34 000 beleggers meer as R4,5 miljard in Sharemax belê het. Talle ouer mense het hul pensioene en spaargeld in een van Sharemax se byna 40 sindikasiemaatskappye belê. Daar is aan diegene belowe dat hul rente of dividende meer sal wees as wat hulle by ʼn bank sou kry. Die Reserwebank het egter in Mei 2010 bevind dat Sharemax die Bankwet oortree het en dus die meeste van die beleggings onwettig verkry het. Sharemax is toe aangesê om beleggers terug te betaal.

Sharemax het dit ontken, maar beleggings het kort daarna begin opdroog en Sharemax het opgehou om maandelikse dividende aan beleggers in twee van sy grootste sindikasies te betaal.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, gedurende die mediakonferensie. (Foto: Verskaf)

Beleggers het toe die keuse gehad om al die Sharemax-eiendomme in een maatskappy, Nova, te konsolideer, met Nova-skuldbriewe aan al die beleggers na gelang van hul oorspronklike Sharemax-beleggings. Nova sou die eiendomme bestuur en die wins gebruik om die houers van die skuldbriewe oor ʼn dekade terug te betaal. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het hierdie plan aanvaar, hoewel beleggers in dié stadium steeds nie ʼn sent van hul beleggings teruggekry het nie.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het Nova die eiendomme bekom met die opbrengs van onwettige aktiwiteite. “Aangesien die eiendom instrumenteel was tot die pleeg van die misdade teen die aandeelhouers en aangesien die maatskappy Nova sedert 2012 in beheer is daarvan (maar dié maatskappy gestig is met die opbrengs van onwettige deposito’s wat deur Sharemax van die publiek aanvaar is) het AfriForum versoek dat die NVG hierdie eiendom in bewaring neem,” het Nel verduidelik.

Volgens Nel het sy eenheid se ondersoek ook bewyse opgelewer dat die raadslede van Nova vir hulself buitensporige salarisse betaal, en ook eers hul eie salarisse betaal voordat hulle skuldbriefhouers uitbetaal. “Dit blyk ook dat Nova besig is om van geboue ontslae te raak in ’n poging om likwidasie te vermy – ten spyte van die verdere reuse- finansiële verliese wat dit vir aandeelhouers kan inhou.”

Herman Lombaard, verteenwoordiger van Sharemax se beleggers, het tydens die mediakonferensie gesê sommige beleggers het in die afgelope tien jaar selfs hul eie lewe geneem weens die finansiële druk waarin die Sharemax-skema hulle gedompel het.

Bohuslav Kautsky (67) was een van die beleggers wat geen uitweg gesien het nie. Kautsky het in 2013 sy eie lewe voor Sharemax se kantoor in Pretoria geneem. ʼn Emosionele Iva Kautsky, Bohuslav se dogter, was vanoggend teenwoordig by die mediakonferensie.

Ander Sharemax-slagoffers het ook kommentaar tydens die virtuele mediakonferensie gelewer. Een van hulle het verduidelik dat sy sedertdien van maatskaplike toelae afhanklik is.

“Die regstelsel het [Sharemax se] beleggers gefaal,” het Lombaard gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stefan ·

As hulle ‘n heelwat hoër rentekoers belowe het as wat die banke vra, moet jy jouself tog afvra hoekom hulle dit dan nie liewer leen by die banke teen ‘n laër rentekoers.

Jack ·

Enige instansie wat rentekoerse hoër as wat die kommersiele banke belowe moet met die grootste agterdog bejeen word, juis vir die rede wat jy noem. Die sharemax mannetjies het my ook op n stadium genader maar toe ek nie wou byt my hulle humeur verloor en ewe dikbek geloop. ‘n Maand later het die bom gebars. Mense wat ander mense op so ‘n manier bedrieg moet gesekwestreer word en lank in die tjoekie weggebêre word.

Scalla ·

Geldgierigheid, weet van welaf mense wat belê het en nou moet die kinders vir hul sorg en die slinkse bemarker het selfmoord gepleeg

Villie ·

Terwyl die direkteure (veral die uitvoerende direkteur en voorsitter) buitensporige salarisse aan hulleself toedeel, luukse motors ry en in nog luukser huise bly krepeer talle beleggers (meestal pensionarisse) van ellende. My oorlede ma was een van die slagoffers wat moes toesien hoe haar spaargeldjies soos mis voor die son verdwyn. Ek weet nie hoe slaap hierdie mense nie … maar nouja indien jy nie ‘n gewete het nie kom slaap seker maklik… Hopelik sal reg en geregtigheid tog uiteindelik seevier.

Johann ·

My oupa het destyds sy plaas verkoop en al sy spaar geld by hulle bele, kry tot vandag toe nig baie swaar as gevolg van die klomp skelms. Sal myself skaam as ek hulle was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.