Sharemax-skema se bates vir eers veilig

Dié gebou aan die ooste van Pretoria is nooit klaar gebou ná die probleme by Sharemax nie. (Foto: Google)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om nie op die Nova-eiendomsgroep, ʼn voortsetting van die eiendomsindikasiemaatskappy Sharemax, se bates beslag te lê nie.

Dié besluit is gegrond op ʼn verslag wat deur ʼn senior advokaat van die NVG opgestel is, maar die burgerregteorganisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid meen dit is nietemin ʼn irrasionele besluit.

Die NVG tree gereeld namens beleggers in soortgelyke beleggingskemas op, maar het in hierdie geval besluit om nié teen die skema op te tree nie.

AfriForum beplan nou om die NVG se besluit op hersiening te neem, aangesien dit “tot verdere nadeel van die slagoffers is, wat enorme finansiële verliese gely het”.

In ʼn brief aan adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging en hoof van die Batebeslagleggingseenheid (AFU), het AfriForum versoek om die regsopinie, waarop die besluit gegrond is, onder oë te kry. Dit is om te verseker dat alle kanale uitgeput is voordat die hof genader word.

“Ons wil die verslag [wat die besluit regverdig] sien omdat die NVG – ná meer as ʼn dekade – versuim het om vervolging in te stel, en daar steeds geen terugbetaling van die oorspronklike belegging of dividende aan beleggers plaasgevind het nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

AfriForum het reeds in Junie 2020 ʼn bewaringsbevel opgestel en aan die NVG gestuur. Daarin word geëis dat die saak voor ʼn hof gebring word. Daar het skynbaar dadels hiervan gekom.

AfriForum voer steeds aan dat die Nova/Sharemax-bates met die opbrengs van ʼn misdaad bekom is en dus strafregtelik vervolg moet word.

Volgens Nel word die aandrang op die bewaringsbevel versterk deur die feit dat die direksie van die Nova-maatskappy op 20 Januarie 2022 – die sperdatum vir die terugbetaling van skuldbriewe – geweier het om enige terugbetalings te doen.

AfriForum het juis destyds ʼn bewaringsbevel opgestel om te verhoed dat die Nova-eiendomsgroep sy eiendomme teen pryse ver onder die markwaarde verkoop. Een van die direkte gevolge van die bewaringsbevel is dat niemand met die eiendom ter sprake mag handel totdat die hof ʼn finale bevel gegee het dat dit verkoop of aan die regmatige eienaars teruggegee moet word nie.

Sharemax is destyds daarvan beskuldig dat hy ʼn piramideskema bedryf het, nadat meer as 34 000 beleggers meer as R4,5 miljard daarin belê het. Talle ouer mense het hul pensioene en spaargeld in een van Sharemax se byna 40 sindikasiemaatskappye belê. Daar is aan diegene belowe dat hul rente of dividende meer sal wees as wat hulle by ʼn bank sou kry. Die Reserwebank het egter in Mei 2010 bevind dat Sharemax die Bankwet oortree het en dus die meeste van die beleggings onwettig verkry het. Sharemax is toe aangesê om beleggers terug te betaal.

Sharemax het die beskuldiging ontken, maar beleggings het kort daarna begin opdroog en Sharemax het opgehou om maandelikse dividende aan beleggers in twee van sy grootste sindikasies te betaal.

Maroela Media het vroeër berig dat sommige beleggers hul eie lewe geneem het weens die finansiële druk waarin die Sharemax-skema hulle gedompel het.

“Ons het reeds by meer as een geleentheid die NVG dringend versoek om bloot sy plig te doen, maar die volgehoue weiering om op te tree, sal ons noop om ʼn hersieningsaansoek te bring,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SwartBees ·

Laat ek raai hoekom…..want die anc het hulle vuil vetterige vingers in die pastei.

JM ·

Mense val gereeld vir hierdie tipe beleggings. As iets te goed is om waar te wees, IS dit te goed om waar te wees.

Shakespeare ·

Sharemax se grootste probleem was. “Go big or go home” en toe word dit “Too big and busted”

Staal ·

Daai klomp agente moes almal toegesluit gewees het. Kriminele gedragmet voorbedagte rade gewees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.