Sharks byt vas teen Crusaders

20130405-213505.jpg

Patrick Lambie

Die Sharks het hul wendroogte teen die Nieu-Seelandse Crusaders verbreek nadat hulle vanaand in Durban met 21-17 geseëvier het. Die rustydtelling was 11-9.

Die Sharks kon laas die manne in rooi in 2007 klop.

Die Sharks sal moet uithaal en wys as hulle Patrick Lambie, wat al sy span se punte aangeteken het, op tuisbodem wil behou nadat dit rugbaar geword het dat hy dalk in Brittanje wil gaan speel. Die Crusaders het ook dieselfde taktiek van konserwatiewe spel en rotsvaste verdediging ingespan wat verlede week so doeltreffend teen die Stormers was, maar hierdie keer het hulle te veel van hul eie medisyne by die Durbaniete gekry.

Lambie het in die tweede minuut reeds sekuur pale toe gekorrel met ‘n strafdoel. Nadat die Crusaders se Tyler Bleyendaal kort daarna sake gelykop gemaak het, het Lambie die Piesangboere se neuse voor gekry met nog ‘n strafskop.

Die enigste drie van die wedstryd is daarna deur die Canterbury-skrumskakel Andy Ellis gedruk nadat Robbie Freuan met die Sharks se verdediging gemors het.

Lambie en Bleyendaal het beide in die laaste vyf minute van die eerste helfte met twee strafskoppe geslaag.

Die Sharks het met nuwe vuur die tweede helfte begin en veral op verdediging hul teenstanders op die agtervoet geplaas. Hulle het ook amper gedruk, maar Franco van der Merwe is kort voor die doellyn deur drie Crusaders uitgeduik.

Nadat Bleyendaal weer drie punte danksy ‘n strafskop by sy span se telling gevoeg het, het Lambie dit vyf uit vyf gemaak met twee strafdoele en sy span met 15-14 laat voorloop.

‘n Ongedwonge fout in die losgemaal het Bleyendaal weereens drie punte laat byvoeg voordat Lambie ‘n moeilike strafskop oorgeklits het.

Die Shakrs se sterte was stewig in die lug van toe af en die spelers en hul skare het hard gejuig toe hulle nog ‘n strafskop in die Crusaders se helfte gekry het en Lambie geen fout gemaak het nie.

Die Sharks speel volgende week teen die Stormers in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.