Shaun Abrahams kry ‘waarskuwing’

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), gewaarsku om nie enige besluite oor die vervolging van pres. Jacob Zuma te neem voordat die konstitusionele hof sy beslissing oor Abrahams se aanstelling gelewer het nie.

Casac het gereageer op sy aansoek, tesame met dié van Corruption Watch en Freedom Under Law, aan die konstitusionele hof om ʼn beslissing op 8 Desember van die Noord-Gautengse hooggeregshof te bekragtig waarin Abrahams se aanstelling ongeldig verklaar is. Die hooggeregshof het ook gelas dat Cyril Ramaphosa binne 60 dae ʼn nuwe direkteur aanstel. Zuma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het teen die beslissing geappelleer.

Dit volg nadat burgerlike organisasies die hooggeregshof genader het om ʼn goue handdruk van R17 miljoen wat Mxolisi Nxasana, Abrahams se voorganger, in 2015 ontvang het, onwettig te laat verklaar.

Maroela Media het vroeër berig Zuma het in Junie 2015 ʼn skikkingsooreenkoms met Nxasana bereik waarvolgens Nxasana sy posisie as NDOV van 1 Junie 2015 af sou verlaat.

Die ooreenkoms het gevolg ná ʼn tien maande lange worsteling tussen Zuma en Nxasana. Die worsteling het in 2014 begin toe Zuma ʼn ondersoek aangevra het om te bepaal of Nxasana bevoeg is om sy amp te beklee. Dié stap het gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat Nxasana versuim het om vorige botsings met die reg te verklaar, waaronder ʼn aanklag van moord in die 1980’s waarop hy vrygespreek is. Abrahams is kort ná Nxasana se bedanking in 2015 as die nuwe hoof van die NVG aangestel.

Casac het Woensdag Abrahams daaraan herinner dat, aldus die konstitusionele hof, hy nie enige besluit rakende Zuma se vervolging kan neem nie omdat sy eie aanstelling betwis word.

Casac het Abrahams tot Vrydag 5 Januarie gegun om die versekering te gee dat hy nie die klagtes teen Zuma sal terugtrek nie. As Abrahams of die NVG nie hierop ag slaan nie sal Casac vir ʼn interdik aansoek doen en ʼn persoonlike kostebevel teen hom bring.

Zuma is tot 30 November ʼn sperdatum gegun om vertoë, insake die sogenaamde spioenasiebande-sage, te rig oor waarom hy nie op 783 aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery tereg moet staan nie. Die NVG het hom egter kort voor die sperdatum uitstel tot 31 Januarie gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eierdanser ·

Hoe lank kan iemand op eiers dans voor een breek?
Hoe lank kan mens op 783 eiers dans voor almal breek?

Lolla ·

Hierdie is so interesant, veral as jy The Presidents Keepers gelees het.

andrea van vuren ·

Pauw se boek het my nuwe insigte gegee. Elke bladsy gepak met die waarheid!

Hennie ·

Ceril moet vir Thuli Madonsela aanstel as die nuwe NVG. Dan sal sy die hele klomp in die nuwe NEC uithaal. So kan hulle almal gaan aftree in C MAX.

Tokkie ·

Aai tog ek het hoop gehad in Cyril vir n nuwe begin vir ons land maar lees nounet die A N C het n resolusie aanvaar om die konstitusie te verander en land weg te vat sonder vergoeding – dit enkele ure nadat Cyril aangewys was as hoof van die A N C – het my enigste bietjie hoop in die politieke mensdom verloor ! Cyril het tog n besigheids agtergrond – verstaan hulle nie wat dit aan die ekonomie sal doen ?

Johann Marx ·

Ek sal dit waardeer in MM vir ons ‘n artikel kan doen oor die volgende regerings-strategie wat oor die afgelope 20 jaar met reëlmaat toegepas is sodat ons kan sien HOEVEEL sulke gevalle daar was: Aanstel, skors, goue handdruk……….Aanstel, skors, goue handdruk……Aanstel, skors, goue handdruk………en dan in sommige gevalle WEER aanstel, WEER skors, WEER pensioen!!! Dis om van naar te word…

Adam ·

Absoluut korrekl. Mense word aangestel om te faal waarna hulle die trekpas en ‘n goue handdruk kry. Ongelukkig kan dit nie in ‘n artikel gedek word nie. Die rapportering daarvan verg ‘n boek wat 10 keer dikker as die Bybel is.

snoefie ·

goue handdruk? hy het oortree! hy moes dan eenvoudig afbetaal gewees het. politisie, ministers en hoofde behoort “cost to company” aangestel te word. so sal daar geen goue handruk, wat bloot omkopery is, te wees nie. hulle kan dan maar spookskrywers aanstel om hulle goue memoirs te skryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.