Shaun Abrahams moet ook gepos word, sê DA

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Sondag ook die kop van adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), geëis.

Dit volg nadat die DA in ʼn verklaring vroeër die naweek ook gesê het ʼn proses moet aan die gang gesit word om Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), ingevolge artikel 194 van die Grondwet van haar amp te onthef. Mkhwebane het volgens die DA “herhaaldelik getoon dat sy nie geskik is om as openbare beskermer te dien nie”.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, het gesê pres. Cyril Ramaphosa moet nou “leierskap toon” en ʼn nuwe NDOV-hoof aanstel.

Selfe meen die proses om oudpres. Jacob Zuma aan te kla was “pynlik stadig” omdat hy “sy amp as president misbruik het om hierdie vervolgings te vertraag” – en Abrahams het Zuma volgens Selfe in die proses van vertraging bygestaan​.

Zuma staar steeds 783 aanklagte van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery in die gesig. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het na bewering reeds 200 getuies wat teen Zuma sal getuig.

Selfe sê die DA is versigtig optimisties oor dié nuus. “Abrahams het sedert hy in sy amp is nie met die nodige dringendheid opgetree om te verseker dat Zuma vervolg sal word nie. In November verlede jaar het die NVG aan Zuma ʼn sperdatum verskaf om vertoë te rig wat uiteensit waarom hy nie aangekla moet word nie. Hy het nie sy vertoë teen die sperdatum gerig nie en is ʼn bykomende sewe weke gegee om te antwoord. Abrahams het getoon dat hy eenvoudig nie vertrou kan word om toesig te hou oor en verantwoordelikheid te neem van hierdie proses nie,” sê Selfe.

Selfe sê as die NVG dié keer werklik daartoe verbind is om Zuma te vervolg, eis hy dat Abrahams die trekpas moet kry ingevolge die Noord-Gautengse hooggeregshof se besluit verlede jaar dat Abrahams se aanstelling as nasionale direkteur van die NDOV onwettig was en ter syde gestel moet word.

Die hof het ook aangevoer dat Zuma nié die aanstelling vir ʼn nuwe NDOV kan maak nie omdat daar ʼn botsing van belange sou wees.

Selfe sê die NVG se appèl teen die hoër hof moet laat vaar word en pres. Ramaphosa moet ʼn nuwe blaadjie vir die liggaam oorslaan deur ʼn nuwe hoof aan te stel.

“Dit is die enigste manier om die vertroue van die publiek in die NVG te herstel en integriteit te gee aan die proses om Zuma te vervolg. In die gees van inklusiwiteit wat deur pres. Ramaphosa beloof is, moet hy ʼn parlementêre komitee betrek by die aanstelling van ʼn nuwe NDOV-hoof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

shark ·

Stem saam, skapie moet gaan,hy mors net belastingbetalers geld,deur sulke mense gaan ons in die vervolg meer betaal vir alles,as ek nie my deel doen by my werk nie laat hul my gaan sonder om my te “suspend with full salary” net nog een van die gravy trein passasiers.

Johann ·

Wat ons moet besef is dat al is die NUMBA WHONE dinges van die wol kombers los geskud… sal ons nog n hele ruk moet aanhou skud om die res van NOMO NUMBA WHONE se mede Zumaikies ook van die wolkombers los te skud. En hierdie een is stewig in die wolkombers vas….

Duitser ·

En Mbalule ens ens maar wat van plaasaanvalle,kaping van afrikaanse skole hoe rentekoerse mense wat nie kos het of werk om hulle kinders in n skool te kry nie hoekom altyd besig met minder ernstige dinge of is julle uit voeling met julle kiesers?

Isolde Volschenk ·

Ek is bevrees as Cyril almal moet vervang wat moet gaan, gaan daar niemand oorbly nie.
Hy sal ‘n hele nuwe kabinet moet kies.

shark ·

Moenie eens Mbalule se naam naam noem nie, sommer van minister van sport na minister van polisie, gee my krag

Eish ·

Dit is eenvoudig verstommend hoeveel meelopers die staatskapers rondom hul kon vergader, ook sogenaamde geleerdes.
Dis eenvoudig of die “leierfigure” almal gestroop het van morele waardes. Soos n klomp skape foeter almal deur die gat in die heining sodra die eerste een dit durf waag. Tereg sê die Woord dat leiers, goed of sleg, aan n strenger oordeel onderworpe is.
MOENIE baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.
JAKOBUS 3:1 AFR53

Skande! ·

Natuurlik kan hy abrahams nie vertrou word nie hy is dan een van Zuma se afbetaalde en omgekoopte puppets!

vasbyt ·

Nog ‘n groot groot skelm – en een van zuma se grootste maatjies!

Andre ·

nogal n probleem, niemand het hulle seker ooit geleer wat reg en verkeerd is nie.

doris ·

Ek dink dit sal n baie goeie ding wees om hom en van sy werknemers te pos want daar word hoë profiel sake net gesluit wat aandag nodig hê en moenie eers praat van die leuens nie Ek sit met bewyse van sulke gevalle en plaas asseblief hierdie kommentaar.Dankie.

Alida ·

Ai mense CR het verder as st 3 geleer. Hy weet wat om te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.