Shaun Christie nie weens geloof geskors, sê rektor  

Shaun Christie

Shaun Christie is nie weens sy geloofsoortuiging geskors nie en enige suggestie in dié verband is van alle waarheid ontbloot.

Prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka, rektor en visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), het in ʼn skrywe aan die universiteitsgemeenskap die versekering gegee dat geen student gedurende sy ampstermyn “ooit geskors sal word van universiteitsaktiwiteite op grond van sy of haar geloofsoortuigings nie”.

Christie, ʼn senior student aan die NWU, is in Februarie geskors na aanleiding van sy openbare beswaar oor die inhoud van ʼn oriënteringsessie vir eerstejaarstudente. “Die student is nie geskors omdat hy sy Christelike oortuigings uitgespreek het nie,” het Tyobeka benadruk.

Christie het tydens die oriënteringsessie uit die gehoor opgestaan en na die verhoog beweeg waar hy sy misnoeë uitgespreek het oor die LGBTQIAP+-inhoud op die agenda.

Volgens Tyobeka behels van die sessies tydens die oriëntering onder meer om studente in te lig oor die grondwetlike beskerming wat aan minderheidsgroepe by die instelling verleen word, met inbegrip van internasionale studente, studente met gestremdhede, en studente wat met die LGBTQIAP+-gemeenskap identifiseer.

“Bywoning van die spesifieke sessie waarna in die dissiplinêre proses verwys word, was nie verpligtend nie, en die genooides was beperk tot eerstejaarstudente, studenteleiers, werknemers van die Studentelewe-portefeulje en gassprekers.

“Die betrokke student is ʼn finalejaarstudent in regte en was nie ʼn genooide na die spesifieke sessie nie. Nietemin het die student die sessie bygewoon sonder om toestemming te vra om dit te doen of om as spreker op te tree. Hy is toegelaat om die sessie uit eie beweging by te woon.”

Volgens Tyobeka het Christie “die program onbeskof onderbreek” en word hy om dié rede dissiplinêr verhoor.

“Ons instelling erken, respekteer en aanvaar alle gelowe op ons kampusse, sowel as die regte van enige lid/lede van minderheidsgroepe insluitend die LGBTQIAP+-gemeenskap, tesame met alle ander grondwetlike regte wat ons Grondwet aan ons verleen.

“Die universiteit respekteer verder ons trotse godsdienstige erfenis solank hierdie respek nie die idee skep dat ons ʼn openbare hoëronderwysinstelling slegs vir Christene is nie. As ʼn unitêre instansie omhels ons persone uit alle strata van die samelewing, gelowe, rasse, geslagte, tale, en die grondwetlike reg om vrylik te assosieer en jouself op ons kampusse uit te druk solank hierdie assosiasie en/of uitdrukking geskied sonder om onredelik inbreuk te maak op die regte van ander.”

Christie se dissiplinêre verhoor het vroeër die week begin maar is tot 27 Maart uitgestel. Hy word daarvan aangekla dat hy ʼn universiteitsprogram opsetlik ontwrig het; haatspraak en aanhitsing van studente om op te staan teen die LGBTQIAP+-gemeenskap; minagting van die regte van die gasspreker; antagonisme teenoor die LGBTQIAP+-gemeenskap; en/of opsetlike valse openbare uitsprake oor die universiteit se “onverdraagsaamheid” teenoor Christelike waardes.

Christie is na die voorval op 6 Februarie tydelik geskors. Sy tydelike skorsing is op 13 Februarie gedeeltelik opgehef. Die universiteit se dissiplinêre komitee het daarmee dié regstudent in sy vierde jaar toestemming gegee om sedertdien weer aan akademiese verrigtinge op die kampus deel te neem. Hy word egter steeds nie toegelaat om enige van die universiteit se openbare geleenthede by te woon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Mike ·

Daarmee is die finale hoofstuk in die PU vir CHO afgesluit. Soos koning Charles 3 – Nie meer defender of “the “faith nie (Church of England), maar defender of “faiths”. So word Christendom al meer gemarginaliseer en onderdruk. So is dit geskryf en so sal dit wees.

Riaan ·

Die PUK se moeilikheid het begin toe daai Dan Kwadi daar begin……….

Oros Soros ·

Nog ‘n eierdans. Bitter baie lank geneem om met die verskoning voorendag te kom.

Nici ·

Daar is of vryheid van spraak op kampus of daar is nie. As die skorsing gaan oor sy opinie en dit word as haatspraak beskou omdat ander nie saamstem nie dan bestaan vryheid van spraak nie. Wat is haatspraak dat dit ‘n kriminele oortreding geword het om iemand aanstoot te gee omdat mens opstaan vir geloofsvryheid?
Haatspraak is ‘n verskoning om enige een wat nie saamstem met progressiewe waardes nie stil te maak. Dit vernietig vryheid van spraak want vryheid werk albei kante toe. As die skorsing gaan daaroor dat hy ongeskik ontwrig het is die reaksie totaal en al buite proporsie. Diegene in beheer by die universiteit moet emosioneel volwasse word.

Leon ·

Sou bg die waarheid wees verander die prentjie in totaal. Geen persoon kan ongenooid klasse ontwrig

Christiaan ·

As die sessies nie verpligetend was nie waarom het koshuise boetes gekry indien hulle HK en 1ste jaars uitgeloop het en die sessie verlaat het? Shaun het opgestaan vir die wat nie hulle sê kon sê nie.

Grassie ·

Die jongeheer Shaun het net sy Christenskap uitgeleef en verdedig. Wanneer iemand daarvoor geskors word is dit werklik ‘n kwade dag.

Samuel ·

Die PUK het hiermee in die hek geduik. Ek kan net vir Shaun Christie bid. Sterkte jongman.

Cherokee ·

So Leon, jý dink dat Christenskap slegs verdedig mag word op uitnodiging. Dink weer, en dink beter.

Talia ·

Hy gaan uit sy pad om iets by te woon wat niks met hom te doen het nie, en nie vir hom bedoel is nie. Dan raak hy kwaad daaroor en en dink dit is sy reg om vir almal te vertel hoe hy voel. Hy het gaan moeilikheid soek, en hy het dit gekry, en nou moet hy maar daarvoor betaal.

chris ·

Ons kan net vir Shaun dankie se vir sy moed en oortuiging om die donker onheilighede agter die skerms aan die lig te bring.Akademici is wereldwyd in die hande van die geldmagte net soos politici,professies (Medies veral)en ander internasionale organisasies.Hulle is deel van die dryf agter die 2030 agenda en doen wat aan hulle voorgeskryf word deur die nuwe wereldorde se nie-verkose leiers van die WEF,WHO,VN ens.

Andre ·

…so kom POTCH ook maar stadig maar seker onder die skoen van die A en C se betaalmeesters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.