Sheila Senkubuge se immigrasiestatus: DA het gewéét

Sheila Senkubuge, burgemeesterkomiteelid oor paaie en vervoer. (Foto: Christel Cornelissen)

Sheila Senkubuge se verdagte immigrasiestatus was die rede waarom haar aansoek om as DA-kandidaat in 2016 in Tshwane te staan reeds tydens die eersteronde-onderhoude afgekeur is.

Dié inligting is na bewering kort ná Senkubuge voor ʼn keuringspaneel verskyn het skriftelik onder die aandag van ʼn DA-lid van die Gautengse wetgewer, Fred Nel, gebring. Nel was in 2016 die voorsitter van die Gauteng-Noord-streek van die party.

Senkubuge se naam het nogtans op onverklaarbare wyse op die kandidatelys verskyn en sy is ná die verkiesing as lid van die burgemeesterskomitee in Tshwane aangewys.

ʼn Gewese lid van die DA, Andrew van Vuuren, sê nou in ʼn beëdigde verklaring dat hy die voorsitter was van die paneel wat in 2016 met Senkubuge ʼn onderhoud gevoer het en dat hy haar onthou, juis omdat sy nié ʼn landsburger was nie.

Van Vuuren sê die paneel het Senkubuge se immigrasiestatus met haar bespreek en haar antwoord was dat sy beslis ʼn Suid-Afrikaanse burger sou wees vóór die kandidatelys by die OVK ingedien word. Volgens haar was haar aansoek om burgerskap hangende by die departement van binnelandse sake.

“Daar is by my geen twyfel dat me. Senkubuge verstaan het dat sy nie vir ʼn openbare amp in aanmerking kan kom as sy steeds nie ʼn burger is wanneer die lyste by die OVK ingedien word nie,” sê Van Vuuren in sy verklaring.

Senkubuge het verlede naweek as lid van Tshwane se burgemeesterskomitee en raadslid bedank ná Maroela Media berig het dat sy in besit van ʼn verblyfpermit was toe sy destyds ʼn raadslid geword het. Volgens die Grondwet mag slegs ʼn Suid-Afrikaanse burger in ʼn verkiesing stem en as politieke kandidaat staan.

Ná die storie landwyd opslae gemaak het, het die OVK, die DA en die departement van binnelandse sake ontken dat Senkubuge nie in 2016 ʼn burger was nie. ʼn Afskrif van ʼn handgeskrewe geboorteregistrasiedokument wat wys dat sy in Lady Frere in die voormalige Transkei gebore is, is toe op sosiale media versprei.

Die datum van die stempel op die dokument dui aan dat Senkubuge se geboorte geregistreer is toe sy reeds nege jaar oud was.

Lex Middelberg, ʼn voormalige DA-raadslid in die Tshwane-metroraad, het Donderdag ʼn klag by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak ná die Garsfontein-polisiestasie verlede week nie sy klag wou aanvaar nie. Die beamptes dáár was van mening dat mense wat nie landsburgers is nie, wél mag stem.

Van Vuuren se verklaring is as stawende getuienis bygevoeg asook bewyse van Senkubuge se twee ID-nommers en ʼn dokument van binnelandse sake wat wys dat sy in 2011 as ʼn Ugandees om permanente verblyf aansoek gedoen het en in 2018 ʼn genaturaliseerde Suid-Afrikaanse burger geword het.

Stevens Mokgalapa. (Foto: DA)

Middelberg sê daar is geen verwysing op die dokument na Senkubuge se geboorte of jare lange verblyf in die Transkei nie.

Senkubuge was die afgelope twee weke pal in die nuus nadat ʼn klankgreep van haar beweerde gekafoefel met Tshwane se burgemeester, Stevens Mokgalapa, wyd op sosiale media versprei is. Die opname is glo in haar kantoor by die metro gemaak.

Mokgalapa is Donderdag tydens ʼn spesiale raadsvergadering deur middel van ʼn mosie van wantroue uit die kussings gelig, maar is laat Vrydag weer in die pos herstel ná die DA ʼn tydelike bevel teen die vorige besluit verkry het. Die beleërde Tshwane-metroraad is ook Vrydag onder administrasie geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Irma ·

Wil vir my lyk of sekere mense en partye se “sondes” groter en ernstiger bejeen word as ander. Tipies van ons ge breinspoelde gemeenskap. En onse julius se mond raak net al groter en viesliker, maar dit is reg….. verstommend en om van naar te word

Cherokee ·

Weer een van die berigte, net soos die een waar die DA betoog daarteen dat kriminele handearbeid moet verrig, waar die DA-kommintators se stilte oorverdowend sal wees.

Mens ·

Jou ou koerantjie verwyder ons kommentare vinniger as wat ons dit kan tik.

Cherokee ·

As jy dit kon bekostig, sou jy ook lyfwagte aangestel het.

Anti Da ·

Daars baie husse met lang ore in die DA se spens. Garsfontein polisie stasie kort n nuwe bevelvoerder.

Manie ·

Ek sal graag wil weet wat doen die stadsraad aan sy boelie polisie wat vroue aanrand in die sestien dae van landswye vroueregte. Of is ondersteuning en nakoming van vroueregte by hulle net soos anc bekpraatjies

CdV ·

DA spin homself lekker vas. Optredes wys dat hul nie juis meer integriteit as ANC het. Baantjies vir boeties/ kaders.

Joos ·

Wonder hoeveel buitelanders sit in die Regerings instansies. Was Gigaba nie ook n Malawier nie?

Johan ·

Hoeveel van die nuus leesers op tv is nie buitelanders nie. ?

Chris dupreez ·

Is dit nie duidelik op wat se manier sy dinge reg gekry het nie. Is hierdie doen en late nie hoekom sy geskors is nie. Nou het sy niks om weg te steek nie :)

jaco ·

baantjies vir boeties het al in die Bybelse tyd gebeur. Die vrome Koning Dawid het ook maar sekere jobs vir familielede gegee.
En dan is ons Afrikaners ook mos maar skuldig daaraan: hoeveel lekker jobs is in die ou SA vir Broederbondlede gegee? Bekwaamheid het seker toe darem ‘n groter rol gespeel, maar ek weet ook van baie meer bekwame mans nie die jobs gekry het nie, NET omdat hulle nie Broederbonders was nie.
Gaan lees die stuk oor Gideon Roos op die afrikaanse Wikipedia. dit dien as bewys van hoe die Broederbond dinge bewimpel het om hulle mense in jobs in te kry en ander wat nie van hulle was nie, uit te werk.
Met baantjies vir boeties en BEE leer vandag se “hulle” dus maar net by die ou dae se “ons”.

Marius ·

Jaco jy praat die waarheid. Ek en my familie het self daaronder gelei.

Cherokee ·

So Marius, jy en jou familie was dus self van die wat leiding verskaf het onder die broederbonders. En jy erken dit dus self.

Maljan ·

Wat is die DA se storie met al hulle buurland aanstellings? Lindiwe Mazibuko en nou Stephan se Sheila! Daar is wragtig genoeg Suid Afrikaans gebore burgers wat graag die werk en besoldiging wil hê wat die uitlanders in die DA kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.