Shell beskuldig van leuens in Nigeriese oliestortingsaak

Shell

Shell

Friends of the Earth (FoE) Nederland en ʼn groep boere van dorpies in die Niger-delta het die Nederlandse oliemaatskappy Shell verlede week hof toe gevat om vergoeding te eis vir skade wat deur ʼn groot oliepyplynstorting veroorsaak is. Plaaslike gemeenskappe is daardeur verwoes.

Gedurende die aanvanklike hofsaak oor die storting, wat in 2012 deur ʼn Nederlandse hof aangehoor is, het Shell se regsverteenwoordiger getuig die oliemaatskappy het voorsorgmaatreëls getref om oliestortings in die Niger-delta te voorkom, wat die installering van ʼn lekopsporingstelsel ingesluit het. Volgens hom is misdadige gepeuter aan die pype in die gebied te blameer vir die storting. Volgens FoE Nederland het die hof gedeeltelik danksy dié getuienis bevind Shell kan net vir een van die vier oliestortings verantwoordelik gehou word.

Die prokureurs wat die Nigeriese boere verteenwoordig sê egter dokumente wat vanjaar in die Britse hooggeregshof ter sprake gekom het, wys daar was inderdaad geen lekopsporingstelsel in plek nie. Dit wys verder dat Shell deurlopend bekommernis van sy eie personeel dat die pyplyn vervang moet word omdat die lewensduur “nie-bestaande of kort” was, geïgnoreer het.

Shell “verwerp die bewering dat dit wetend aangehou het om ʼn pyplyn te gebruik wat nie veilig was nie”, het die maatskappy aan die BBC gesê.

Die e-posse, briewe en interne verslae wat by die Britse hooggeregshof ingedien is, wys egter senior Shell-werknemers was voor die storting bekommerd daaroor dat Shell se pyplyne in die gebied die einde van hul lewensduur bereik het en vervang moes word om gevaar vir lewens, die omgewing en die ekonomie te voorkom.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die Treasure Karoo Action Group (TKAG), sê hieroor: “Wat ons nou in Nigerië sien gebeur, sien ons in Shell se optrede regoor die wêreld: beloftes, besoedeling en ontkenning. Shell het ontken hulle was verantwoordelik vir ʼn geval van grondwaterbesoedeling verwant aan skaliegasontginning in Amerika in 2011, terwyl hulle terselfdertyd hul hidrobrekingsplanne in Suid-Afrika bemark en beweer dit is veilig, omgewingsvriendelik en dat hulle ʼn skoon rekord het.”

Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, sê: “Shell kan nie vertrou word nie. Terwyl hulle beloftes aan Suid-Afrikaanse boere maak dat hulle nie sal meeding om water gedurende hul hidrobreking-werksaamhede hier nie, doen die olie-reus presies dít in die staat New York – hy dagvaar die plaaslike gemeenskap daar om waterregte vir sy werksaamhede in Pennsylvania.”

Intussen het die Amerikaanse Sentrum vir Biologiese Diversiteit dokumente bekom wat wys die olie- en gasbedryf het onwettig sowat 3 biljoen gelling (sowat 11,3 biljoen liter) hidrobreking-afvalwater in die drinkwaterdraers in sentraal-Kalifornië ingepomp. Kalifornië beleef tans ʼn ernstige droogte. Dié bevinding is gemaak nadat die Amerikaanse Omgewingbeskermingsagentskap ʼn ondersoek na moontlike besoedeling gelas het.

Deal sê: “Wins is hierdie maatskappye se hoofprioriteit en hulle bewys daagliks deur hul optrede in ander lande dat hulle enigiets sal doen waarmee hulle kan wegkom – dit gaan meer as net beloftes van die minister van minerale bronne verg om dié bedryf in Suid-Afrika te beheer.

“Nuus oor voorvalle van besoedeling uit die boorvelde van Amerika word byna daagliks deur TKAG opgeteken. Wat van belang en ʼn bron van kommer is, is dat die negatiewe inligting oor die myn van skaliegas, wat kwessies van besoedeling tot die ekonomie insluit, net meer word – en heelwat van die bronne is artikels gegrond op gedokumenteerde en portuurbeoordeelde navorsing. Pres. Zuma se verklaring dat skaliegas die speelveld gaan verander, word deeglik deur hierdie feite weerlê – feite wat die regering onder die mat invee in sy gretigheid om te val vir Shell se oordrewe bemarking,” het Deal bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sollie ·

Yip en dan wil hul kom fracking doen hier – spul leuenaars wat die omgewing kom verwoes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.