Shell onttrek aggressiewe hidrobreekplanne in SA

Argieffoto

AfriForum en die Treasure Karoo Action Group (TKAG) beskou Shell Suid-Afrika se aanduiding dat hy beoog om hom aan skaliegasontginning in die sensitiewe Karoo te onttrek, as ’n belangrike oorwinning vir almal wat hulle oor die omgewing ontferm.

AfriForum en die TKAG het oor die afgelope sewe jaar ’n sleutelrol gespeel om gemeenskappe te mobiliseer, die parlement te versoek en hofaksies van stapel te stuur om hidrobreking te verbied.

“Ons is daarvan oortuig dat AfriForum, die TKAG en ander drukgroepe se voortgesette aktivisme en deurlopende regsdruk op hidrobreekmaatskappye en die regering sal verseker dat maatskappye soos Bundu Gas and Oil, Sunset Oil and Gas, Falcon Oil and Gas, en Rhino Oil and Gas binnekort Shell en Sasol se voorbeeld sal volg om hul hidrobreekplanne in waterskaars gebiede te laat vaar,” het Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, in ʼn verklaring gesê. “AfriForum en die TKAG moedig dié maatskappye aan om eerder skoonenergieplanne volgens die VN se volhoubareontwikkelingsdoelwitte vir 2030 na te streef.”

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die TKAG , het gesê gegewe internasionale omgewings-, sosiale en ekonomiese druk wat sedert 2011 stadig maar seker toegeneem het, is die organisasie glad nie verras dat Shell nou sy planne vir hidrobreking in die Karoo onttrek nie.

Shell het aanvanklik aangedui dat die maatskappy ongeveer 485 biljoen kubieke voet (kv) gas in die Karoo sou kon onttrek – ’n syfer wat intussen na minder as 30 biljoen kv gedaal het. Hulle het ook volgehou dat bedrywighede tussen 300 000 en 700 000 werksgeleenthede sou skep. Dié syfer word gereeld deur die regering aangehaal. Die regering se eie studies dui egter op ’n moontlike 3 000 werksgeleenthede, waarvan slegs 15% tot 35% deur plaaslike Suid-Afrikaners gevul sou word.

Volgens Deal is dit danksy Suid-Afrikaners wat hard teen skaliegasontginning geveg het dat dié maatskappye nou jammer is dat hulle vir dié sinkende skip pal gestaan het. “Go well, go Shell. Gaan net weg,” sluit Deal af.

Gemeenskapslede kan dié alliansie steun deur ’n SMS met die woord “Fracking” na 45354 te SMS (R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

jean ·

Wonderlikste nuus ooit!!!!!!!!!!!…..(.Ek wonder of daar reeds iets onder die tafel betaal is en wat nou daarvan gaan word?…… ) .

John ·

Dit is ongelukkig nie al skaars-bronne wat in die Karoo skuil nie. Daar is reeds deur onwelkome uitlanders begin om uraan ea in die gebied te myn. Die spul moet sommer aan hul lang neushare uitgesleep en ook na Koebaai ge-concord word ~ die een met die bars in sy krom neus (die vliegtuig bedoel ek, of is dit wat ek bedoel (‘any way’)?).

Willem ·

Wat my verstand tebowe gaan is waarom is dit die aktiviste en burgerlike organisasies, privaat instellings, wat gedurig moet keer vir die twak wat die regering aanvang en toelaat om te gebeur. Baie keer eindig dit in die hof. Waarom kan die regering nie vir ‘n slag uit sy eie iets reg doen nie? Nou dink ek ook aan die geblikte leeujag wat die regering (Edna Molewa is die minister) toelaat sodat die beendere na die Chinese toe uitgevoer kan word. Dan beduie Mantashe ook dit is bog dat daar gedink word swart mense kan nie boer nie.

alwyn burger ·

Vir sy onvermoeide ywer, deursettingsvermoë en onwrikbare standpunt teen skaliegasontginning in S.A. behoort Mnr Jonathan Deal beloon te word met ñ ministerspos. Hy het geveg nie vir die blanke nie maar vir Suid-Afrika. Well done sir!

Willem ·

Hallo Maroela, ek is nie seker waarom julle my kommentaar van so ‘n tydjie gelede nie plaas nie. Dalk is dit die verwysing daarin na geblikte leeus, die se beendere wat na die leeus geskiet is (mens kan dit nie jag noem nie) vir die Chinese mark bedoel is, en die minister (Edna Molewa). In die week het daar ‘m klomp bewaringsorganisasies ‘n brief aan Ramaphosa gestuur en gevra dat hy optree, want die minister doen dit nie. In die media is breedvoerig daaroor berig.

E.K. die eerste ·

BAIE goeie nuus. Hoop in die toekoms as mens vir soortgelyke dinge moet baklei sal ons ook genoeg hulp kry om dit te kan stop.

Alco ·

Ek vermoed dit het meer met die voorgenome onteiening van grond te doen as met enige drukgroepe, aksies of individue. Shell gaan beslis nie enige kanse neem nie…

thinus ·

Ek dink Shell het eenvoudig besef dat geen eerlike en regdenkende persoon in hierdie land lang termyn beleggings kan waag nie, en veral nie as jy moet staatmaak op die huidige regering se integriteit nie! Daarby is die eindverbruiker besig om te knak – en aan wie verkoop hul dan hul produk?

Charl ·

Ek dink die groter rede vir Shell se ontrekking is die kleiner geskatte reserwes en die olieprys wat laer is. Ons regering is omkoopbaar … ons sien dit elke dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.