Shell se planne aan Wildekus eers gestuit

Die skip wat seismiese opnames aan die Wildekus doen. (Foto: Steven Watkins/MarineTraffic.com)

Die hooggeregshof in Grahamstad het gemeenskappe aan die Wildekus se interdik teen Shell se seismiese opnames toegestaan. Gevolglik word die olie- en gasreus nou verbied om met sy bedrywighede aan die seebodem voort te gaan.

Die uitspraak volg net weke nadat vier omgewing- en menseregtegroepe se dringende interdik deur die hof afgekeur is.

Regter Gerald Bloem het Dinsdag beslis dat Shell dadelik sy bedrywighede moet staak tot ʼn tweede deel van die interdik aangehoor kan word. Die datum hiervoor sal eers later bekend gemaak word.

Shell het reeds vroeg in Desember met seismiese opnames begin op soek na aardgas en ruolie. Sedertdien is verskeie interdikte teen Shell gevra in ʼn poging om die kwesbare seelewe te beskerm. Inwoners van die gebied het selfs aan die Wildekus in protes teen Shell se planne opgeruk.

In sy uitspraak sê Bloem ten spyte van die groot getal deskundige getuienis oor die bedreiging wat hierdie opnames vir die seelewe kan inhou, het Shell geen bewyse verskaf om die vertoë wat deur die applikante gemaak is, teen te staan nie.

Bloem het bygevoeg dat die bewyse wat aangebied is, wys dat daar wel ʼn werklike bedreiging bestaan dat die seelewe onherstelbaar deur die seismiese opnames benadeel sal word.

Benewens die bedreiging vir die seelewe, het die applikante ook voldoende bewyse gelewer oor die negatiewe uitwerking wat die seismiese opname op die lewens ​​van vissers en ander gemeenskappe sal veroorsaak.

Bloem het in sy uitspraak gesê Shell se pogings om plaaslike gemeenskappe van sy beplande eksplorasie in kennis te stel, was onvoldoende en dat sy konsultasieproses met die geraakte gemeenskappe “gebrekkig” was.

“In al die omstandighede lyk dit vir my of die eksplorasiereg, wat op grond van ʼn wesenlik gebrekkige konsultasieproses toegeken is, dus onreëlmatig en ongeldig is,” lui die uitspraak.

Die hof het Shell en die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, ook beveel om die applikante se regskoste te betaal.

Wat nou?

Shell word nou verbied om met die seismiese opnames voort te gaan tot ʼn tweede deel van die interdik op ʼn latere stadium aangehoor kan word.

ʼn Hof sal dan moet bepaal of Shell omgewingsmagtiging ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) moet verkry.

Adrian Friedman, Shell se regsverteenwoordiger, het destyds gesê dat Shell se eie omgewingsbestuursprogram ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) as ʼn omgewingsmagtiging dien. Dit sal egter nou betwis moet word.

Shell kan intussen ook teen Bloem se uitspraak appelleer, maar dit sal steeds nie die bevel opskort nie.

Sinegugu Zukulu van Sustaining the Wild Coast (SWC), een van die organisasies wat die interdik ingedien het, sê hy is verheug dat die hof eindelik ten gunste van die plaaslike gemeenskap beslis het.

“Die stemme van die stemloses is gehoor. Hierdie oorwinning is uiters betekenisvol omdat ons seker gemaak het dat die regte van gemeenskappe vooropgestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.